On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agriculture

Verwagte El Niño voorspel nie noodwendig 'n slegte oes nie

───   ELSABÉ RICHARD 08:16 Mon, 26 Jun 2023

Verwagte El Niño voorspel nie noodwendig 'n slegte oes nie | News Article
FOTO: Mark Stebnicki/Pexels.

Voorspellings van 'n El Niño in die 2023/24-somerseisoen, beteken nie noodwendig dat Suid-Afrika 'n slegte landbouseisoen sal ervaar nie.

Dit is volgens Wandile Sihlobo, hoofekonoom by die Landbousakekamer van Suid-Afrika (Agbiz).

Hy sê die El Niño, wat gewoonlik ondernormale reënval tot gevolg het, kom ná vier jaar van swaar reën wat grondvog en natuurlike weiveld verbeter het.

Dit beteken daar is " 'n natuurlike kussing" vir landbou-aktiwiteit, selfs al is die reën onder die gemiddelde (tipies ongeveer 500mm) in Suid-Afrika, sê Sihlobo. 

"Wat egter nodig sal wees, is dat die buie in kritieke tydperke val, soos saadontkieming en bestuiwingstadiums van groei, wat alles noodsaaklik is vir gewasverbouing.

LEES OOK: Droër toestande kan vir binnelanders wag

"Dit sou nie Suid-Afrika se eerste keer in so 'n gelukkige posisie wees nie. Die somer van 2018/19 het 'n El Niño-geleentheid gehad. Tog het die reën in kritieke tydperke geval, en Suid-Afrika het 'n ordentlike oes behaal, met kommersiële mielies op 11,2 miljoen ton, sojabone op 1,2 miljoen ton en sonneblomsaad op 678 000 ton.

"Ander veldgewasse en tuinbou het ook daardie jaar ordentlike opbrengste behaal. Die 2018/19-seisoen is veral nie voorafgegaan met gunstige vier jaar van gunstige reënval wat grondvog verbeter het nie. Daarom is die huidige posisie beter as die mees onlangse El Niño-tydperk."

LEES OOK: Klimaatsverandering kan aansienlike gevolge vir vee- en graanproduksie inhou

Aanpasbaarheid

Senior Landbou-ekonoom by FNB, Paul Makube, sê aanpasbaarheid is belangrik vir die voortbestaan van boerderye. 

“Aanpassing deur boere is van kardinale belang in die lig van die komende warm en droë toestande wat deur El Niño veroorsaak word,” beklemtoon hy, “en vir veeboere beteken dit om nou stappe te doen om ’n gepaste balans tussen voerbeskikbaarheid en voorraadgetalle te verseker.”

Daarmee saam het onafhanklike landbouweerkundige Johan van den Berg gesê hoewel dit onmoontlik is om vooruit te beplan vir droogte, is dit egter juis belangrik dat produsente proaktief moet wees.

“Moenie te drasties optree nie, soos om nié te plant nie. Laat grondvogtoestande ’n belangrike rol speel in die besluitneming.”

Voorts moet graanboere meer selektief wees om die regte landerye vir die regte gewasse te gebruik.

“Met die baie nat toestande van die afgelope paar seisoene is grond wat nie baie water kan opgaar nie, al hoe meer gebruik omdat daar gereelde reën voorgekom het. Dit gaan verander tydens die El Niño-seisoene.”

OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.