Agriculture
Wat is nuut in Farmer's Weekly?─── ELSABÉ RICHARD 08:32 Fri, 14 Jul 2023
Farmer’s Weekly bring vandeesweek die kwessie van veediefstal in die Vrystaat onder die loep.
Dié misdaad ruk volgens Vrystaat Landbou (VL) so hand uit dat boere met geen ander keuse gelaat is as om hul eie veediefstalondersoek-inisiatief te stig nie.
Die organisasie het R1 miljoen beskikbaar gestel vir die stigting van dié inisiatief.
LEES OOK: Veediefstal buite beheer, VL stel privaat ondersoekers aan
Volgens Francois Wilken, president van VL, het veeprodusente in die provinsie jaarliks groot finansiële verliese gely as gevolg van georganiseerde veediefstal.
Hy sê dié situasie is vererger deur die beperkte kapasiteit van die polisie om misdaad in die provinsie te bekamp.
Dr. Jane Buys, VL se veiligheids- en risiko-ontleder, sê die inisiatief sal private ondersoeke deur opgeleide spesialiste in vennootskap met die organisasie se landelike veiligheidskomitee en die LVG private sekuriteitsmaatskappy laat doen.
Nog ’n nuusberig kyk na die volgende paar weke wat 'n groot impak op die winterreënvalstreek sal hê. Toit Wessels, Graan SA se assistent-bemarkingsbestuurder by NAMPO, sê drie weke se sonskyn sal nat gebiede in staat stel om te herstel.
Wessels voeg by dat graanboere in die algemeen nie erge oesverliese gely het weens die swaar reën wat die Wes-Kaap in Junie getref het nie. Baie boere in die Overberg, Suid-Kaap en Swartland het egter gesukkel om op hul lande te kom om noodsaaklike kunsmis en onkruiddoders toe te dien aangesien die grond nog te nat was.
Hy sê die probleme is minder ernstig in streke met sanderige grond, aangesien die lae waterhouvermoë van die grond die water vinnig laat dreineer.
