Agriculture
Veediefstal buite beheer, VL stel privaat ondersoekers aan─── ELSABÉ RICHARD 08:30 Tue, 04 Jul 2023
Vrystaat Landbou (VL) sê veediefstal het handuit geruk, soveel só dat die organisasie nou gedwing is om sy eie inisiatief met privaat ondersoekers van stapel te stuur.
Die organisasie het die inisiatief Maandag 3 Julie tydens ’n virtuele media-inligtingsessie bekendgemaak.
LEES OOK: NVG in Noordwes lê beslag op veediefstal-voertuie
Die president van VL, Francois Wilken, sê die inisiatief is op die been gebring weens die gebrek aan die polisie se vermoëns in terme van kapasiteit en hulpbronne om veediefstal effektief te bekamp, te ondersoek, die nodige inhegtenisnames uit te voer en sake suksesvol deur die howe te voer met goeie vonnisopleggings.
" ’n Tekort aan mannekrag, voertuie en toerusting by Veediefstaleenhede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is ’n groot bron van kommer”.
VL se Veilgheidsrisiko-ontleder dr. Jane Buys het verduidelik dat die inisiatief eers in die Fezile Dabi-distrik van stapel gestuur word.
LEES OOK: Vrystaatse polisie vra hulp om Brahman-bulle op te spoor
Dit sluit die volgende dorpe in:
- Heilbron
- Mafube-omgewing
- Kroonstad/Steynsrus
- Cornelia/Villiers
- Parys/Sasolburg
“Die eerste fase van hierdie projek is vanaf 1 Julie 2023 in die Fezile Dabe-distrik van stapel gestuur waar ons PSIRA-geregistreerde private ondersoekers aktief is en alle ondersoeke sal plaasvind, in samewerking met die polisie onder die vaandel van die Landelike Veiligheidstrategie.”
LEES OOK: ‘Veediewe heg meer waarde aan buit as ’n mens se lewe’
Private ondersoekers sal boere behulpsaam wees met onder meer:
- Bewaring van die misdaadtoneel;
- Neem van 'n A1-verklaring. Die boer moet egter steeds die saak by die plaaslike polisiestasie aanmeld;
- Kontak/samewerking met die veediefstalspeurder in die omgewing;
- Om alle bewyse aan die veediefstalspeurder te oorhandig; en
- Begin 'n soektog om die gesteelde vee op te spoor.
LEES OOK: Man lank tronk toe vir veediefstal
Die organisasie se Peet Swanepoel, wat in Parys geleë is, sal as die provinsiale koördineerder vir die private ondersoekers optree.
Volgens VL is Swanepoel ’n gesoute veediefstalondersoeker wat al dekades lank by sulke ondersoeke betrokke is en ook veediefstalspeurders opgelei het.
Die diens sal gratis beskikbaar wees vir volbetaalde VL-lede. Ander boere sal ook bedien kan word as hulle 'n voorafbepaalde bedrag in VL se Veiligheidsfonds inbetaal, sê Buys.
