Agriculture
Vroue in landbou: Marné Lessing─── ELSABÉ RICHARD 07:58 Wed, 16 Aug 2023
Geloof, familie en liefde vir landbou is drie belangrike waardes wat die kern vorm van Marné Lessing se menswees.
Sy, haar man, Lukas – wat as Vrystaat Landbou se 2023 Jongboer van die Jaar aangewys is – en hulle twee seuns boer op 'n plaas by Marquard in die Vrystaat.
Lewe op die plaas word dikwels gekenmerk deur onvoorspelbare skedules en uitdagings, maar dis nie iets wat Marné afskrik nie. Sy gee nie om om 'n afspraak by die haarsalon op die dorp te kanseleer om gou aandag aan 'n krisis op die plaas te gee nie.

Marné Lessing is veral passievol oor die vee op die plaas. Foto: Verskaf
Die betrokkenheid van die hele gesin by die daaglikse boerderybedrywighede skep 'n besondere band tussen hulle.
Hul kinders, Otto en Johannes, groei op in 'n omgewing waar liefde vir landbou en omgee vir die omgewing 'n integrale deel van hul opvoeding is. Hulle leer die waarde van harde werk en die vreugde van saamwerk as 'n familie.

Johannes en Otto Lessing. Foto: Marné Lessing
"Ek dink vroue gaan 'n groot rol begin speel in boerdery. Ek het nou al baie te doen gehad met vroue wat besig is om hulle man se veevertakking oor te neem, en selfs hulle jonger dogters ook. So ek wil die pa's wat net dogters het vra om hulle te motiveer om by die boerdery betrokke te raak.
"Ek dink vir 'n kind is dit die grootste begeerte om deel te kan wees van sy/haar pa se boerdery. Daar waar sy kan help om 'n lammetjie of kalfie melk te gee speel 'n groot rol en dit laat mens lief word vir boerdery," sê Marné.
Hoewel die lewe op die plaas sy uitdagings mag hê, is dit die liefde vir landbou en die gesin wat Marné en Lukas inspireer om elke dag hul beste te gee.
Met die geleidelike oordra van kennis en waardes na die jonger geslag, verseker hulle dat hierdie essensiële waardes vir landbou en menswees van geslag tot geslag bewaar en gevier sal word.
