Agriculture
Landbounuus: Organisasies bespreek kwessies tydens vergadering met Vrystaatse LUR─── ELSABÉ RICHARD 13:30 Fri, 22 Sep 2023
Vrystaatse landbou-organisasies het met die provinsiale landboudepartement beraadslaag oor hul ontevredenheid met onder meer 'n onlangs geadverteerde tender.
Dit hou verband met die gebruik van implementeringsagente in ondersteuningsprogramme vir produsente. LUR Saki Mokoena sê die departement het eers 'n direkte oordragstelsel gebruik, maar skakel nou oor na 'n verkrygingstelsel, en lewer so alles wat boere nodig het.
Brandverenigings in Noordwes is gefrustreerd met die owerheid se oënskynlike onvermoë én onwilligheid om met hulle en boere saam te werk om brandbestryding beter te koördineer, én skaars hulpbronne doeltreffend te benut. Die VF Plus vra Noordwes se waarnemende premier moet dié provinsie kragtens rampbestuurswetgewing formeel verklaar tot rampgebied. LPW Erns Kleynhans sê Noordwes het onlangs deurgeloop onder verwoestende veldbrande wat meer as 800 000 hektaar weiveld- en gewasse vernietig het, maar die owerheid kan of wil blykbaar nie boere se hand vat nie.
Intussen sê AfriForum veldbrande hou ’n groot risiko vir boere én die gemeenskap in, daarom is dit belangrik dat mense mekaar gedurende hierdie tydperk ondersteun. Die organisasie het die afgelope week meer as 60 koring strooibale geskenk aan boere in die Vryburg-omgewing wat veldbrandskade gely het. AfriForum Stellaland- distrikskoördineerder JP Nel sê die bale weeg altesaam 14 ton.
Daar was geen wettige handel in leeubene sedert die Gautengse hooggeregshof se uitspraak in 2019 wat die beenkwota ongrondwetlik verklaar het nie. Die omgewingsdepartement se antwoord volg ná 'n skriftelike vraag deur die Inkatha Vryheidsparty se Narend Singh. Hy wou weet of daar enige planne in plek is om te verhoed dat wettige handel gebruik word as 'n dekmantel vir onwettige handel in leeubene. Die departement sê hy het sedert 2019 'n merkstelsel geïmplementeer vir leeujagtrofeë. Die provinsiale bestuursowerheid word ook versoek om inspeksies uit te voer regdeur die waardeketting.
EN
'n Sagtevrugte-organisasie het sy uitvoervoorspellings vir die 2023-seisoen hersien weens ongunstige weer, soos hael en oorstromings vroeër in die jaar. Hortgro sê die beraamde uitvoervolume vir appels is 40,8 miljoen kartonne, 'n afname van 10% vergeleke met die 2022-seisoen. Uitvoervoorspellings vir pere is 17,2 miljoen kartonne, 4 miljoen kartonne oftewel 19% minder.
