Agriculture
Landbounuus: Noodramphulp in Vrystaat versoek ná veldbrande─── ELSABÉ RICHARD 14:06 Tue, 03 Oct 2023
Die provinsiale regering moet inspring en help met noodleniging ná verwoestende veldbrande in die Vrystaat.
Die landbousektor bereken nog die finale koste van die verlies aan weiding, vee en infrastruktuur. Vrystaat DA-leier doktor Roy Jankielsohn, sê vanjaar se brandseisoen is buitengewoon erg, maar die owerheid moet deurentyd oorgehaal wees om brande te bestry.
Intussen is die veldbrand op die plaas Berlin, naby Clarens in die Oos-Vrystaat, onder beheer gebring. Dit beteken al die groot brande wat die naweek in die provinsie gewoed het, is nou onder beheer. Vrystaatse Sambreelbrandbeskermingsvereniging se Johan Breytenbach sê ongelukkig lei die weerstoestande weereens tot 'n hoë brandgevaar-indeks.
Die landbouminister het met kleinhandelaars beraadslaag oor die uitwerking van voëlgriep. Die grootste uitdaging is die lewering van eiers, aangesien aanbodbeperkings voorkom in sommige dele van die land. Departementele woordvoerder, Reggie Ngcobo sê minister Thoko Didiza spits haar toe op maatreëls om eiertekorte te voorkom én die verspreiding van die voëlgriep te beperk.
Die Noord-Kaapse Departement van Landbou in vennootskap met Afrika Wireless Tech stel die program Farm-Smart in Kimberley bekend. Die tegnologie-gefokusde program, wat Woensdag bekendgestel word, is gemik op onder andere kleinskaalse en opkomende boere. Daarmee kan landbouers nie net Kunsmatige Intelligensie en die Internet van Dinge in hul bedrywighede implementeer nie, maar ook bydra tot volhoubare werkskepping en langtermyn-voedselsekerheid.
EN
NAMPO ALFA se interraskampioenskap is ’n baie goeie inisiatief en gesond vir die bedryf. Só praat River Valley Simmentalerstoetery-eienaar, Peter Abrahamse. Die stoetery, wat buite Heidelberg in Gauteng geleë is, se spogkoei, Venus, is genooi om eersdaags deel te neem aan NAMPO ALFA se interraskompetisie. NAMPO ALFA vind plaas van 12 tot 14 Oktober by NAMPO Park buite Bothaville.
