Agriculture
Landbounuus: Pluimveebedryf verwelkom tariewe teen lande wat in Suid-Afrika stort─── ELSABÉ RICHARD 14:13 Thu, 23 Nov 2023

Foto: Leonardo Jarro/Pexels.
Die bedryfsvereniging sê egter hy moet in 'n moeilike omgewing kop bo water probeer hou terwyl pluimveeprodusente gebuk gaan onder swak dienslewering, voëlgriep en groot volumes ingevoerde bevrore hoendervleis wat plaaslike produksie bedreig.
- Nuwe teenstortingstariewe teen Brasilië, Ierland en Denemarke is die eerste keer dat maatreëls ingestel word teen nege lande wat hoender in Suid-Afrika stort. Die pluimveebedryf verwelkom dit, ten spyte van die jare lange vertraging. Die bedryfsvereniging sê egter hy moet in 'n moeilike omgewing kop bo water probeer hou terwyl pluimveeprodusente gebuk gaan onder swak dienslewering, voëlgriep en groot volumes ingevoerde bevrore hoendervleis wat plaaslike produksie bedreig.
- Intussen het die prys van aartappels die kollig vrygespring weens die hoë prys van eiers as gevolg van die voëlgriep-uitbreking. Aartappels het 'n prysstyging van 21,2% tussen September en Oktober aangeteken. Dit plaas die jaarlikse styging vir dié groente op byna 65%. Statistieke SA se verbruikersinflasiesyfers toon die gemiddelde prys vir aartappels het met R8,89 gestyg van R13,93 per kilogram in Oktober verlede jaar tot R22,82 per kilogram in Oktober vanjaar.
- Suid-Afrika trek swaar en die landbou lei daaronder weens swak bestuur van die nasionale regering. 'n landbou-organisasie sê die sektor moet dié werklikheid vierkant in die oë kyk. TLU SA-hoofbestuurder, Bennie van Zyl, sê om eerlik te wees oor die werklikheid en 'n standpunt in te neem teen die sake wat negatiewe gevolge vir die toekoms kan hê, is op 'n mediafunksie beklemtoon.
- Verskeie beste praktykriglyne bestaan om voor en ná konstruksie-voëlmonitering by windenergiegeriewe te bestuur. Dit het aan die lig gekom op 'n inligtingsessie onder leiding van Birdlife SA, saam met die Noord-Kaapse landboudepartement en ander belanghebbendes oor die invloed wat dié tegnologie op voëls het. Landbou-woordvoerder, Phemelo Manankong, sê een van die risikoversagtingsaktiwiteite wat toegepas word, is dat windturbines gestop word om voëls te beskerm.
- Beespryse styg steeds, terwyl skaappryse onder druk is. Chris Derksen, wat weekliks die veilingspryse vir lewendehawe verskaf, sê verskalwers is ook R3 tot R4 goedkoper as bulkalwers. Hy bring ons op die hoogte van die lewendehawe veilingspryse per kilogram.
- Erge donderstorms word verwag oor die westelike dele van die Vrystaat, die noordoostelike dele van die Noord-Kaap, asook die westelike dele van Noordwes. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ook 'n geel, vlak twee waarskuwing uitgereik vir gepaardgaande skadelike wind en hael wat tot skade aan voertuie, strukture en oeste kan lei. Hoë brandgevaartoestande word ook voorspel vir gedeeltes van die Noord-Kaap, westelike dele van Noordwes, en sentrale en westelike dele van die Vrystaat.
- 'n Kalahari Red-bok het 'n rekordprys van meer as R160 000 behaal op 'n veiling in een van Suid-Afrika se buurlande. Dié bok, geteel en verkoop deur Bushra Stoet in Botswana, is op die jaarlikse Trifecta Elite-veiling opgeveil vir R165 000. Die koper was Noordwes-Kalahari Red-stoetteler, Rulé Ernst, van die Bonisa Reds-stoetery naby Wolmaransstad. Farmer's Weekly berig die rekordprys vir Botswana klop die vorige rekord van byna R143 500 in November 2021.
OFM Nuus/Elsabé Richard-May Daphné