Agriculture
Landbounuus: Geen rede tot kommer oor hoenderpokke─── ELSABÉ RICHARD 14:06 Mon, 27 Nov 2023

Foto deur Italo Melo/Pexels.
SA Pluimveevereniging se braaikuikenorganisasie-hoof, Izaak Breitenbach, sê hoenderpokke is nie so ernstig of op die vlak van voëlgriep nie.
- Daar's geen rede tot paniek nie, nadat enkele geïsoleerde gevalle van hoenderpokke aangemeld is die afgelope weke. Die kanse dat die virus sal versprei is laag omdat die pluimveebedryf al baie jare hoenders teen die siekte inent. SA Pluimveevereniging se braaikuikenorganisasie-hoof, Izaak Breitenbach, sê hoenderpokke is nie so ernstig of op die vlak van voëlgriep nie.
- Intussen word pluimveeprodusente versoek om genoeg water, skuiling en ventilasie te verskaf vir hul hoenders gedurende hierdie uiterse warm dae. Dele van Sentraal-Suid-Afrika het temperature bereik van meer as 40 grade, wat die Suid-Afrikaanse Weerdiens genoop het om inwoners en produsente te waarsku oor hittestres en –uitputting. Noord-Kaapse staatsveearts, McDonald Gayakaya, sê daar is verskeie tekens van hittestres by pluimvee waarvoor produsente op die uitkyk moet wees.
- ’n Vrystaatse boer in die Dihlabeng- munisipale gebied sê die reënskaarsste en aanhoudende hittegolf het daartoe gelei dat hul diere minder water en droë weiding het. Die plaaslike munisipale woordvoerder, Tshediso Maitse, sê die Caledonrivier se watervlak is op 30% en inwoners word gevra om water spaarsaam te gebruik.
- Goeie nuus in die landbousektor: Produsente kan uitsien na 'n daling in brandstofpryse in Desember. Landbou-ekonoom, Dawie Maree, sê veral somergraanprodusente gaan baatvind by goedkoper diesel omdat hulle 'n besige tydperk betree.
- Daar is optimisme dat Suid-Afrika se verbruikersvoedselprysinflasie na laer vlakke sal terugkeer in 2024. Sommige produkte wat waarskynlik so 'n prysneiging sal aandryf sluit in graanverwante produkte, sowel as vette en olies.
OFM Nuus/Elsabé Richard-May Daphné