On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

Produsente moet hul vergewis van beoogte waterwetwysigings

───   06:00 Wed, 06 Dec 2023

Produsente moet hul vergewis van beoogte waterwetwysigings | News Article
Foto: Getty Images

Die nasionale Waterwysigingswetsontwerp is op 17 November gepubliseer en is oop vir openbare kommentaar tot 16 Januarie 2024.

Dit is baie belangrik dat produsente hulself van die inhoud van die nasionale Waterwysigingswetsontwerp vergewis. Agbiz se regskenner Annelize Crosby sê die praktiese implikasie wat die wetsontwerp vir verskillende bedrywe inhou moet tydens die kommentaarproses geopper word.

Die nasionale Waterwysigingswetsontwerp is op 17 November gepubliseer en is oop vir openbare kommentaar tot 16 Januarie 2024. Die wetsontwerp is egter ‘n groot bron van kommer vir die landbousektor weens die potensiële impak daarvan op watertoewysing en -gebruik.

Hoewel die wet daarop gemik is om billike watertoewysing te verseker en nadelige gevolge van private waterhandel te voorkom, is daar ‘n aantal praktiese haakplekke.

Die doelwitte van die wetsontwerp sluit in:

  • Die versekering van billike watertoewysing en optimalisering;
  • Die vermyding van ongewenste gevolge van private waterhandel;
  • Voorsiening dat die hersieningstydperk van die nasionale waterhulpbronstrategie met 10 jaar verleng word;
  • Om voorsiening te maak vir die beskerming van waterbronne;
  • Om voorsiening te maak vir die oordrag van watergebruikmagtigings;
  • Om voorsiening te maak vir die hertoedeling van water;
  • Die herroeping van die reg om 'n bestaande watergebruik wettig te verklaar;
  • Om die bestuursaangeleenthede van watergebruikersverenigings en hul lidmaatskap verder te reguleer;
  • Om voorsiening te maak vir die transformasie van watergebruikersverenigings.

Crosby sê hoewel Agbiz besig is om die bepalings van die wetsontwerp in detail te bestudeer en ‘n konsep voor te berei vir kommentaar, blyk dit selfs met die eerste oogopslag dat daar 'n hele paar kwessies is.

Verbod op waterhandel: Die kwessie van die oordrag van waterregte was die onderwerp van 'n onlangse uitspraak in die konstitusionele hof. Die vraag voor die hof was of 'n watergebruiksreg verkry ingevolge die nasionale Waterwet aan 'n derde party oorgedra kan word en, indien wel, of ‘n fooi gehef kan word vir die oordrag. Die konstitusionele hof het bevind dat die nasionale Waterwet dit toelaat. 

Dit blyk dat die wetsontwerp beoog om daardie interpretasie tot niet te maak deur die wet spesifiek te wysig dat 'n waterreg afgestaan kan word om 'n lisensie-aansoek vir water te vergemaklik van dieselfde hulpbron op ander grond wat aan dieselfde eienaar behoort.  Sodanige watergebruik kan nie op enige manier verhandel word nie en sulke water moet aan die regering afgestaan word. Water vir besproeiing kan op aansoek oorgedra word na ander grond wat aan dieselfde eienaar behoort vir ‘n maksimum van 24 maande, maar voorwaardes mag geld.

Hersiening van waterlisensies: Die wetsontwerp maak ook voorsiening dat 'n watergebruikslisensie nie toegestaan mag word binne waterbrongebiede wat bedreig of kwesbaar is nie en waar waterlisensies toegestaan is vir landbou in sulke gebiede sal dit hersien word.

32-meter-terugset: Die wetsontwerp maak verder voorsiening vir 'n 32-meter-terugset wat in gebiede ingestel kan word deur die minister as gereguleerde aktiwiteite ingevolge art. 21 van die wet. Watergebruiklisensies mag nie vir enige ploegaktiwiteit uitgereik word nie, tensy die 32 meter-terugset vasgestel is. Die minister kan ook verdere beperkings voorskryf wat verband hou met ander bedreigings wat waterbrongebiede ervaar..

Hertoedeling van water tussen sektore: Die wetsontwerp maak voorsiening vir die hertoedeling van water tussen sektore, provinsies en opvanggebiede na oorleg met die geaffekteerde watersektore deur die minister.

Prioritisering van regstelling by die uitreiking van waterlisensies: Die wetsontwerp stel 'n nuwe subklousule 27(3) voor wat sal voorsiening maak dat die regstelling van vorige ras- en geslagsdiskriminasie geprioritiseer moet word by die uitreiking van 'n lisensie of algemene magtiging. 'n Sekere volume water sal hiervoor opsy gesit moet word. Dit ontken die appèlhofuitspraak in die sogenaamde Goede Wellington-saak waar die hof bevind het dat transformasie of regstelling slegs een van 'n aantal relevante faktore van toepassing was in die toekenning of oordrag van waterlisensies en nie as die enigste oorweging verhef kon word nie.

Bestaande wettige gebruik: Die wetsontwerp sal art. 34, wat handel oor bestaande wettige gebruik, wysig deur twee nuwe subklousules, wat bepaal dat die regulerende owerheid nuwe voorwaardes kan invoeg of verpligtinge wat nodig is om die waterhulpbron en die omgewing te beskerm, by te voeg. Die wetsontwerp maak ook voorsiening daarvoor dat 'n verantwoordelike owerheid 'n volume water kan beperk wat beskikbaar word as gevolg van die versuim deur watergebruikers om die volle bestaande wettige gebruiksvolume uit te oefen vir enige tydperk wat deur die minister bepaal word.

Watergebruikersverenigings: Die wetsontwerp maak voorsiening dat die grondwet van 'n watergebruikersvereniging in die toekoms 'n klousule moet bevat waarin 'n strategie uiteengesit word om ras- en geslagstransformasie in al die komponente van die vereniging in te sluit.

OFM Agridg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.