On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
NEXT: 20:00 - 23:59 The Music Man Mix with The Music Man
Listen Live Streams

Agriculture

Voedselinflasierisiko’s te midde van droogte

───   08:55 Sun, 24 Mar 2024

Voedselinflasierisiko’s te midde van droogte | News Article
Foto: Pieter Fleetwood

Die skadelike uitwerking van die voortslepende droogte en hittegolftoestande in Suid-Afrika se somergewasverbouingstreke laat kommer ontstaan oor ’n moontlike styging in voedselinflasie in die komende maande.

Agbiz se hoofekonoom, Wandile Sihlobo, meen met Suid-Afrika se voedselprysinflasie, wat relatief hoog is in vergelyking met onlangse koerse – in 2023 gemiddeld 11%, vanaf 9,5% in 2022, 6,5% in 2021 en 4,8% in 2020 – is sprake van verdere opwaartse druk in inflasie ’n onwelkome ontwikkeling.

“Die onderliggende dryfvere van die toename in voedselinflasie die afgelope twee jaar was egter hoofsaaklik die internasionale landboukommoditeitspryse en, in ’n veel mindere mate, eiesoortige binnelandse faktore. Teen die laaste deel van 2023, was plaaslike faktore soos dieresiektes, die swakker binnelandse geldeenheid en beurtkrag-verwante koste van die sleuteldrywers van voedselinflasie.”

Van die faktore wat agter die hoër wêreldwye landbouprodusentepryse was, wat op hul beurt binnelandse pryse, en relatief verhoogde verbruikersvoedselprysinflasie in 2022 en 2023 gedryf het, was die droogte in Suid-Amerika, China se sterk vraag na graan en oliesade, stygende verskepingskoste, hoër energiepryse en die Rusland-Oekraïnse oorlog.

“Suid-Afrikaanse voedselvervaardigers moes ook van hierdie verhogings absorbeer en kon dit nie volledig aan verbruikers, wat reeds onder druk was weens swak ekonomiese toestande en hoër werkloosheid, oordra nie.”

In 2022, terwyl verbruikersvoedselinflasie gemiddeld 9,5% was, was die produsenteprysinflasie vir landbouprodukte 15,0%, en die voedselvervaardigersinflasie 12,3%.


Sihlobo glo egter die faktore wat hoër verbruikersvoedselinflasie in 2022 en 2023 ondersteun het, het ietwat bedaar.

“Daar is genoeg graanvoorrade in die wêreldmark. Afgesien van die internasionale faktore, was ander groot faktore wat Suid-Afrika se voedselinflasie die afgelope jaar gedryf het, die styging in groente- en pluimveeproduktepryse. Dinge het hierdie jaar verander.”

Hoewel dit sedert die begin van Februarie 2024 redelik droog was, het groenteproduksie nie dieselfde druk ervaar nie, omdat alle kommersiële produksie in Suid-Afrika onder besproeiing is. Produsente is vanjaar meer voorbereid op beurtkrag.

“Met inagneming van bogenoemde verwikkelings, sal die groot risiko's vir verbruikersvoedselinflasie in Suid-Afrika in 2024 hoofsaaklik witmielieprodukte wees, terwyl ander produkte binne die voedselmandjie kan modereer of sywaartse beweging in pryse kan toon,” sluit Sihlobo af.

OFM Agri cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.