Agriculture
Onsigbare vyand: Impak van brusellose op vee, wins, welvaart─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Wed, 03 Dec 2025
Brusellose, of te wel besmetlike misgeboorte of maltakoors, bly een van die gevaarlike en hardnekkige veesiektes in Suid-Afrika wat mens en dier aantas.
Hoewel boere en veeartse al dekades daarteen veg, toon onlangse gevalle dat siekte kom steeds wyd voor en neem selfs toe in sommige gebiede. Die uitwerking daarvan strek veel verder as net individuele kuddes; dit raak ook voedselveiligheid, die vleis- en suiwelbedryf en eindelik die boere se inkomste.
Brusellose in diere word veroorsaak deur verskeie organismes van die Genus Brucella. Suid-Afrika het hoofsaaklik te doen met Brucella mellitensis, wat in bokke voorkom, Brucella abortus, wat in beeste aangetref word, asook Brucella avis in skape.
Die siekte word veroorsaak deur ’n bakterie, wat in selle leef en veral toeslaan op die selle van die voortplantingstelsel. “Gewoonlik word aborsies van fetusse eerste aangemeld,” sê dr. Hanri Bester-Cloete, staatsveearts van die Bloemfonteinse veterinêre laboratorium.
“Ek het al verliese gesien selfs net drie maande in dragtigheid, tot byna voltermyn. Wanneer die baarmoeder ontsteek raak en dit nie meer ’n kalf kan onderhou nie, sterf die fetus en aborsie vind plaas.
“Hoë ladings van die bakterieë sal dan op die fetus, nageboorte en baarmoedervloeistowwe voorkom. Nuuskierige beeste wat hieraan ruik en lek of van die gras vreet waarop dit lê of mense wat die fetusse hanteer of selfs net ’n spatsel van die vloeistof in die oog kry, kan aangesteek word.”
Isoleer nuwe diere
Die siekte tas ook die gewrigte aan, veral die knieë. Beeste is die vatbaarste vir die siekte, maar ander diersoorte en wildspesies soos buffels, kan dit ook kry.
Die huidige toetsing in Suid-Afrika berus op die toetsing van teenligaampies teen die bakterieë. As een of twee diere in die kudde positief toets, is daar ’n goeie kans dat nog dit reeds onder lede het, maar nog nie positief toets nie.
Daar is twee entstowwe op die mark, Stam 19 en RB51, maar entstowwe is slegs ’n hulpmiddel om die siekte te beheer. “Aankoop van nuwe diere, veral jong, vroulike diere bly altyd ’n risiko; hulle kan negatief toets maar reeds draers wees, dus moet vroulike diere in isolasie gehou word tot na kalwing.

Brusellose is hoogs aansteeklik vir mens en dier. Foto: Pexel
“Wetlik moet enige verdagte positiewe gevalle by die staatsveearts aangemeld word. Boere moenie bang wees vir die word ‘kwarantyn’ nie, die doel daarvan is om mense en ander diere te beskerm,” sê Bester-Cloete.
Mense kan die siekte opdoen as hule ongepasteuriseerde melk drink. Pasteurisasie maak bakterieë dood en die melk veilig, daarom is streng maatreëls by melkerye nodig.
“Ent jou jong diere getrou in elke jaar,” maan Bester-Cloete. “Toets jou kudde elke drie jaar en hou boek van die inentings, en werk sáám met jou veearts of staatsveearts. Hoe vinniger die protokolle gevolg word, hoe vinniger is jou kudde weer skoon.”
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

