On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Jong agripreneur inspirasie vir jeug in landbou

───   ROBYN SCHUTTE 05:00 Thu, 13 Jun 2024

Jong agripreneur inspirasie vir jeug in landbou | News Article
Diederick Lotter, ’n Graad 10-leerder aan Hoërskool President Steyn, is ’n jong boer wat reeds sy merk in die landboubedryf maak. Foto verskaf

’n Leerder in Bloemfontein maak reeds sy merk in die landboubedryf.

Diederick Lotter, ’n Graad 10-leerder aan Hoërskool President Steyn, is ’n jong boer wat reeds sy merk in die landboubedryf maak. Hy boer met groente en hoenders op sy familieplaas en deel graag sy ervarings en insigte oor sy reis as agripreneur.

Lotter se liefde vir landbou het diep wortels. “Ek het nog altyd groente geplant, aanvanklik net vir ons huishoudelike gebruik. Dit was my ma en my oupa wat my gelei het. Ek het saam met my ma in die tuin gewerk toe ek klein was en later saam met my oupa ’n  groentetuin op ons plaas begin. Dit was aanvanklik net vir ons eie gebruik, maar toe het ek besluit om dit kommersieel aan te pak.” Die familie se plaas, Hooglied, leen sy naam aan Lotter se besigheid, Hooglied Boerdery.

Om ’n balans te vind tussen skoolwerk en boerdery is ’n uitdaging. “Dit is nogal moeilik party dae. Ek probeer my skoolwerk tussen klasse doen en wanneer ek by die huis kom, fokus ek op die tuin. Gedurende vakansies spandeer ek al my tyd in die tuin.”

 

Om die mark te verstaan en produkte effektief aan te bied, was ’n leerproses vir hom. “Dit kom uit ondervinding. ’n Mens moet toets en kyk wat werk en wat nie werk nie, jou pryse aanpas en terugvoer van klante gebruik om te verbeter.”

Lotter se gunsteling deel van boerdery is die verbouing van groente – “om die groente te plant en te sien hoe dit groei, en dan die oestyd, wanneer ek kan sien hoeveel ek kry van my werk af”.

“Dit is belangrik om ’n goeie toekoms vir jouself te bou. Jy moet van kleins af begin werk aan jou toekoms. Met landbou weet jy waar jou kos vandaan kom en kan jy ‘n goeie toekoms bou.”

Só lyk een van vele aanplantings waaruit Lotter vars produkte aan die Bloemfonteinse gemeenskap verkoop. Foto verskaf

Lotter glo sterk in die toekoms van landbou in Suid-Afrika. “Landbou sal altyd ’n toekoms hê, want dit is nodig vir oorlewing. Jy het kos nodig, so ek glo die toekoms van landbou is positief.”

Die grootste les wat hy as ’n jong boer geleer het, is om stadig en doelgerig te groei. “Begin klein en moenie te vinnig te groot probeer gaan nie. Fokus op wat jy kan doen en groei geleidelik. Moenie te vinnig groei nie, anders kan jy nie op alles fokus nie.”

OFM/Agriculture cg



@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.