Agriculture
UV-navorsers gebruik sampioene om troebel water te suiwer─── ROBYN SCHUTTE 06:00 Tue, 17 Sep 2024
Die navorsing fokus op die besoedeling van riviere in die Qwaqwa-streek in die Oos-Vrystaat en die gebruik van sampioene as ’n natuurlike metode om watergehalte te verbeter.
Navorsers aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) is besig met ’n innoverende benadering tot watersuiwering wat sampioene gebruik om besoedelde water skoon te maak. Prof. Patricks Voua Otomo, medeprofessor in die departement dierkunde en entomologie, het saam met sy span begin navorsing doen oor die gebruik van mikrofiltrering om besoedeling van waterbronne te verminder.
Suid-Afrika ervaar reeds groot uitdagings met betrekking tot die behandeling van afvalwater – met minder as 3% van die land se 850 afvalwaterstelsels wat aan die Groen Druppel-sertifiseringstandaarde voldoen, volgens die 2022 Groen Druppel-verslag. Hierdie tekort aan doeltreffende afvalwaterbehandeling dra by tot die besoedeling van rivierstelsels wat groot implikasies vir menslike gesondheid en die omgewing inhou.
Otomo se navorsing fokus op die besoedeling van riviere in die Qwaqwa-streek en die gebruik van sampioene as ’n natuurlike metode om watergehalte te verbeter. Die metode, bekend as mykofiltrering, maak gebruik van die swam mycelia om besoedelingstowwe soos yster en plaagdoders uit water te verwyder. Mykofiltrering kan tot 94% van yster en 31% van die plaagdoder imidakloprid uit besoedelde water verwyder.
Sanele Mnkandla, ’n finale jaar PhD-student aan die UV, het ’n leidende rol gespeel in hierdie navorsing. Sy het die idee voorgestel om mykofiltrering te gebruik om besoedelde water skoon te maak en het veral gekyk na hoe varswaterslakke gebruik kan word om die effektiwiteit van die skoonmaakproses te beoordeel. “Ons gebruik die natuurlike eienskappe van swamme om besoedelingstowwe op te vang en af te breek. Dit is ’n eenvoudige proses waar besoedelde water deur die mikrofilter laat vloei en die swamme doen die res. Die pleurotus-genus van eetbare sampioene is besonder doeltreffend in die bio-absorpsie van kontaminante.”
Die mykofiltrering werk deur die proses van absorpsie, waar molekules en deeltjies aan die oppervlak van die swam se selwande vassit, wat uiteindelik die besoedelingstowwe uit die water verwyder.
Mnkandla se navorsing is ook in ooreenstemming met die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (SDG’s), veral SDG 6, wat streef na toegang tot veilige drinkwater vir almal teen 2030. Sy beklemtoon mykofiltrering het groot potensiaal om waterverwante ekostelsels te beskerm en te herstel deur besoedeling te verminder.
Die pleurotus ostreatus mykofilter. Die strooi is ten volle gekoloniseer deur P. ostreatus mycelia (wit). Foto verskaf
In samewerking met plaaslike owerhede in die Qwaqwa-streek het Otomo, Mnkandla en die res van die span die mykofiltreringstegnologie op afvalwater uit plaaslike behandelingsaanlegte getoets. “Ons het gevind dat mykofiltrering byna 100% van die fosfor in die water verwyder het en tot 50% van swaar metale soos kwik,” sê sy.
Hulle beoog om die tegnologie verder op te skaal om groter hoeveelhede water skoon te maak, insluitend die water wat op plase versamel word na die was van toerusting wat met plaagdoders in aanraking kom.
Mnkandla hoop die navorsing sal nie net tot groot skaal toepassings lei nie, maar ook sal uitkring na ander lande wat sukkel met waterbesoedeling. Sy verwelkom samewerking met ingenieurs om meer doeltreffende stelsels te ontwerp, asook met plaaslike boere om die filters op hul plase te implementeer. “Ons wil ook meer leer oor plaaslike swamspesies wat dalk beter resultate kan lewer in die maak van hierdie filters.”