On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
Show Background
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret and John
Listen Live Streams

Agriculture

NWK bly positief oor toekoms ten spyte van 50%-winsdaling

───   15:30 Tue, 29 Jul 2025

NWK bly positief oor toekoms ten spyte van 50%-winsdaling | News Article
NWK se hoofkantoor op Lichtenburg. Foto: OFM

Ten spyte van ’n halvering in wins ná belasting tot R114,3 miljoen, bly die NWK-groep positief oor die 2025/2026-landbouseisoen, danksy gunstige oesskattings en verbeterde grondvogtoestande.

Dit volg ná een van die droogste seisoene in 52 jaar in NWK se bedieningsgebied, wat tot 43,4% minder graanontvangstes gelei het en produsente genoop het om hul uitgawes drasties te sny.

Hoewel groepinkomste met R156 miljoen tot R5,99 miljard gestyg het, is die impak van die droogte duidelik sigbaar in afdelings soos Graan en Handel. Die graan-egment het ’n inkomste-afname van R349 miljoen aangeteken, met ontvangstes die laagste sedert 2016/2017. 


NWK se silo’s het oor die algemeen leeg afgesluit, wat tot verminderde voorraadoordrag en wins gelei het. Lae graanvolumes het ook NWK Logistics getref. 

Dié afdeling se kapasiteitsbenutting het afgeneem, al is vier brandstoftenkvragmotors in Desember 2024 bygevoeg om ’n nuwe brandstofvervoerdiens te lewer.

Die wins van NWK Handel het met R7 miljoen gedaal tot R67 miljoen. Die droogte en swakker opbrengste het produsente se bestedingsvermoë ingeperk, en die afdeling se inkomste het met 11% afgeneem tot R3,386 miljard.

LEES OOK: NWK fokus ook op gemeenskapsprojekte

Die skuif van mielies na sonneblom het kunsmisverkope geraak, terwyl goeie reën aan die begin van 2025 ’n daling in veevoerverkope veroorsaak het. Brandstofverkope is ook geraak deur dalende pryse, en sonkragverkope het afgeneem weens minder beurtkrag.

NWK Meganisering het ’n verkoopsdaling van 38,7% beleef. Die swak oes het vraag na heelgoedere gedemp en die hoë voorraadvlakke van tweedehandse toerusting het afwaarderings genoodsaak.

Tog toon Epko, NWK se sonneblomoliepers, uitsonderlike herstel. Die eenheid het ’n rekordwins van R87 miljoen aangeteken danksy hoë proteïen- en oliepersentasies in ontvangstes, sowel as die bou van ’n nuwe kraglyn wat produksieonderbrekings beperk het. 

Finansiële posisie bly sterk

’n Nuwe verfyningsaanleg vir ru-olie sal in 2025/2026 in werking tree as deel van ’n risikobeheerstrategie.

Volgens Alf White, NWK se groephoof- finansiële beampte, bly die groep se finansiële posisie sterk, met ’n ekwiteit van R2,104 miljard en ’n netto batewaarde van R21,14 per aandeel. Die totale dividend vir 2025 is 48 sent per aandeel. 

“Danksy ons konserwatiewe finansiële bestuur en strategiese vennootskappe is NWK gereed om produsente te ondersteun om die beste uit die nuwe seisoen te haal.”

OFM Agri mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.