On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Graanproduksie: Onstuimige seisoen bied waardevolle lesse

───   06:00 Mon, 12 May 2025

Graanproduksie: Onstuimige seisoen bied waardevolle lesse  | News Article
Foto: Verskaf

Die 2024/25-somergraanoesseisoen in Suid-Afrika het talle uitdagings vir mielie- en sojaboonprodusente ingehou, met onvoorspelbare weer, siekte-uitbrekings en plaagprobleme wat opbrengste en graankwaliteit bedreig het.

Hanlie Geldenhuys, landboukundige by Syngenta Suid-Afrika, beskryf die seisoen as ‘vreemd’ en beklemtoon dat risikobestuur nou noodsaakliker as ooit is.

Weerpatrone en oesprobleme

Produsente het van vroeg af gesukkel met wisselvallige reënval. Planttyd was droog, maar swaar reën in Maart het tot grondverspoeling gelei, selfs in droë gebiede soos Thabazimbi. Hierdie wisselvalligheid het ’n impak gehad op die bestuiwing van mielies, met algemene probleme soos baardknyp, onvolledige bestuiwing en koppe wat terugtrek, sê Geldenhuys. Die warm, droë tydperk vroeg in Januarie het verdere druk geplaas, terwyl nat toestande tydens strooptyd tot kopvrot en vroeë uitloop bygedra het.

Siekte- en plaaguitdagings

Nat toestande het ook siektes soos grysblaarvlek laat floreer. “Baie produsente het te laat begin spuit, en hierdie siekte sal waarskynlik ’n groter probleem in die volgende seisoen wees. Dit gaan belangrik wees om voorkomend op te tree, want baie van hierdie siektes oorleef op oesreste.”

Plae het ook ’n groter uitdaging as gewoonlik geword. Kommandowurms en sprinkane was prominent, maar produsente het ook met onverwagsse probleme soos lentekewers en vrugtetorre gesukkel. In KwaZulu-Natal, Limpopo en Noordwes het mieliestreepsiekte verder druk geplaas, met boere wat vinnig moes reageer om die verspreiding van bladspringers te beheer.

Vooruitsigte vir 2025/26

Hoewel die nat grondprofiele ’n positiewe begin aan die nuwe seisoen kan bied, is daar ernstige bekommernisse oor hoër siekte- en insekdruk. Die nat toestande het ook gelei tot wydverspreide antraknose op sojabone, ’n siekte wat selde in sulke mate voorkom.

Geldenhuys maan produsente om hul boerderyplanne noukeurig te oorweeg en die lesse van die afgelope seisoen toe te pas. “Voorkoming is beter as genesing,” sê sy, en beklemtoon die belangrikheid van behoorlike kultivarseleksie, doeltreffende onkruidbeheer en die beperking van die beweging van weerstandige onkruidsade tussen plase.

Kritiese stappe vir risikobestuur

Produsente moet veral let op die volgende vir die komende seisoen:

  • Kultivarseleksie: Diversifiseer met kultivars wat weerstand bied teen die belangrikste siektes, maar hou ook opbrengspotensiaal in gedagte.
  • Plaagbeheer: Doen voorkomende swamdoderbespuitings vroeg en wees paraat vir onkruidbeheer met ’n langtermynstrategie.
  • Implemente: Beperk die oordrag van onkruidsaad tussen plase om weerstandige onkruid te bekamp.

Geldenhuys se raad aan boere is om nouer as ooit aan hul lande betrokke te bly. “Hou jou vinger op die pols en moenie huiwer om met kundiges te konsulteer nie. Samewerking is die sleutel tot sukses in onsekere tye.”

OFM Agri cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.