Agriculture
RMIS stig operasionele sentrum om bek-en-klouseerkrisis te bestuur─── 14:53 Fri, 06 Jun 2025

In ’n dringende reaksie op die wydverspreide uitbreking van bek-en-klouseer (BEK) sal Red Meat Industry Services (RMIS) Maandag 9 Junie ’n gesentraliseerde Operasionele Sentrum (OS) by sy hoofkantoor aktiveer.
Die sentrum, wat deur ’n aangewese RMIS-veearts gelei sal word, sal bestaan uit ’n span veeartsenykundiges, bedryfsverteenwoordigers en ’n spesialisagentskap vir openbare betrekkinge en kommunikasie.
Hierdie span vorm die nuwe BEK-werkgroep, wat getaak is om ’n gestruktureerde, tydgebonde reaksie op die uitbreking te ontwikkel en implementeer, met fokus op medium- en langtermynoplossings soos entstofstrategieë.
Volgens RMIS is die hoofdoelwit van die plan om die huidige BEK-situasie daadwerklik aan te spreek en die rooivleisbedryf se volhoubaarheid te beskerm.
“Dit is ’n keerpunt vir die bedryf,” sê RMIS se uitvoerende hoof, Dewald Olivier. “Ons is gestig vir tye soos dié – om leierskap, tegniese kundigheid en praktiese oplossings te bied in samewerking met die regering en die sektor.”
Kernverantwoordelikhede van die Operasionele Sentrum sluit in:
- Voltooiing van ’n drie-maande raamwerk vir onmiddellike risiko’s en grondlegging vir langtermynbeheer.
- Versterking van veeartsenykundige dienste en skepping van BEK-vrye vleisverskaffingskompartemente vir abattoirs.
- Samewerking met die gesamentlike operasionelesentrum (JOC) vir belyning met staats- en bedryfstrategieë.
- Evaluering en verfyning van die Departement van Landbou se gebeurlikheidsplan.
- Ontwikkeling van ’n plaaslike entstofstrategie, insluitend befondsingsmodelle.
- Sentralisering van kommunikasie deur die aangewese RMIS-veearts.
- Inwerkingstelling van ’n elektroniese permitstelsel vir vee-beweging, gebaseer op ’n gestruktureerde verklaringstelsel.
’n Sleutelelement is die vorming van publiek-private vennootskappe om die kapasiteitsuitdagings van die openbare veeartsenykundige sektor aan te vul.
Die RMIS glo dat hierdie gesamentlike poging bepalend gaan wees vir die toekoms van rooivleis in Suid-Afrika – nie net vir produsente nie, maar ook vir die wyer landbou-ekonomie.
Verklaring verskaf