Agriculture
Nuwe beheermaatreëls met betrekking tot bek-en-klouseer─── 16:50 Wed, 18 Jun 2025

Met die onlangse uitbreking van bek-en-klouseer by al Karan Beef se voerkrale en kort op die hakke van die formele aankondiging dat die virus nou ook na Noordwes versprei het, is daar nou ook vanaf Vrydag (20/6) nuwe beheermaatreëls van krag.
Hierdie planne behels onder meer dat lewende beeste, skape of bokke slegs verskuif mag word indien ’n verklaring oor die oorsprong en gesondheid van die diere, asook ’n onderneming teenwoordig is om die diere vir minstens 28 dae by die bestemming te isoleer.
As geen siektetekens verskyn nie, word isolasie op dag 29 opgehef. PD Cilliers, die voorsitter van die dieregesondheidsforum van die RPO in die Vrystaat meen hoewel verandering dalk vir sommige moeilik sal wees, is die alternatief moontlik “’n ramp” en sal almal moet saamwerk.
Dis egter vir hom “ironies” dat die nuwe regulasies op “produsente afgedwing word”, terwyl die “staat self misluk het” om die siekte binne die rooi areas te hou. “So dit is kommerwekkend om te sien dat die regulasies is nou daar en dis ’n moet.”
Hy beklemtoon die belangrikheid van uitvoere vir die vleisbedryf en vra vir ’n waarborg wanneer dit kom by voortgesette handle.
“Kan die minister van landbou ons waarborg en sê, ‘luister hier, dit sal nie die uitvoere raak nie. Daar gaan definitief uitvoere plaasvind, want ek kan geen manier of uitweg uit hierdie ding uit sien behalwe dat ons die vleis moet uitvoer nie’.
Nuwe regulasies
“Dit is op die einde van die dag ons behoud as produsente. En dit gaan weer ’n direkte effek hê op die wolmark ook.”
Wat die nuwe regulasies behels, verduidelik Cilliers: “Jy gaan nou ’n artikel 6- en ’n artikel 8-vorm moet invul. Die artikel 6-vorm is ’n identifikasiesertifikaat, waar jou brandmerk op is en onder andere jou tatoeërmerk.
“En dan die artikel 8-vorm is ’n verwyderingsvorm. Daar sal ’n staatsveearts wees wat die verwyderingsvorm sal nagaan en onderteken.”
LEES OOK: Bek-en-klouseer: Doen als moontlik om jou kudde te beskerm
Hy noem verder dat elke boer en veiling streng biosekuriteitsmaatreëls sal moet toepas, insluitend ontsmetting. “Jy moet ook nie vee sommer van enige ander plek inkoop wat nie uit die Vrystaat uitkom vir die volgende twee, drie maande dink ek nie.”
Cilliers sê produsente moet kalm bly: “Biosekuriteit is ’n realiteit. So ek dink nie boere moet paniekerig wees nie en die ding moet homself uitspeel.”
Die voorgestelde beheermaatreëls om die risiko van verspreiding van beheerde diere-siektes deur die beweging van kloofhoewige diere te verminder, sluit in:
Elke beweging van lewende beeste, skape en bokke moet vergesel wees van:
- ’n Verklaring deur die verantwoordelike persoon op die oorsprongsterrein, waarin bevestig word waar die diere vandaan kom en hul gesondheidstoestand;
- ’n Geskrewe verbintenis deur die verantwoordelike persoon op die bestemmingsperseel, waarin onderneem word om die diere vir minstens 28 dae in afsondering te hou voordat hulle by die hoofkudde gevoeg of verder vervoer word; en
- Indien geen diere in afsondering siekte tekens toon nie, verval hierdie afsonderingsperiode op dag 29 na aankoms by die bestemming.
Sekere aktiwiteite soos veilings, spekulasie, veeskoue en vervoer van verskillende groepe diere, hou ’n hoë risiko vir verspreiding van siektes in. Hierdie aktiwiteite word vrygestel van die 28-dae-afsondering, mits aan biosekuriteitsvereistes voldoen word en alle dokumentasie minstens 5 jaar gehou word.
Relevante wetgewing sluit in
- Dieresiekteswet 1984 en sy regulasies;
- Die Diere-identifikasiewet, 2002 (Wet No. 6 van 2002 – AIDA);
- Die Wet op Veediefstal, 1959 (Wet No. 57 van 1959); en
- APAC Biosekuriteitsreëls soos vervat in Kennisgewing 135 van 2020.
Op die oorsprongsplaas
- Geen onlangse toename in sterftes of uitbreek van beheerde siektes nie;
- Geen verdagte simptome van bek-en-klouseer (BKS) soos blase, slym, mankheid of mastitis in die laaste 28 dae nie;
- Geen nuwe diere op die plaas in die afgelope 28 dae nie;
- Inspeksie van alle diere binne drie dae voor vervoer;
- Alle diere moet volgens AIDA geïdentifiseer wees (brandmerk/tatoeëer + oormerk); en
- Vervoervoertuie moet vooraf skoongemaak en ontsmet wees.
By die versamelpunt
- Duidelike skeiding tussen aankomsarea (“vuil”) en biosekerarea (“skoon”);
- ’n Biosekuriteitsbeampte (geregistreer by SAVC) moet aangestel wees;
- Inspeksie en identifikasie van alle diere by aankoms;
- Dokumentasie moet bevestig en korrek wees;
- Slegs gesonde en behoorlik geïdentifiseerde diere mag na die skoon area beweeg; en
- Uiteindelike vervoer moet op skoongemaakte en ontsmette voertuie geskied.
Naspeurbaarheid en rekordhouding
- Voor aflaai moet oorsprong, AIDA-sertifikate, GPS-koördinate, verklaring, veediefstal dokumentasie en vervoerinligting beskikbaar wees;
- Voor vertrek moet bestemming, koperinligting, vervoerinligting en verbintenis tot afsondering vir 28 dae beskikbaar en bewaar word; en
- Rekords van alle diere wat die terrein binnekom of verlaat, moet daagliks gehou en aan die staatsveearts beskikbaar gestel word indien versoek.
Reëls vir veevervoer
- Slegs diere met geldige verklarings mag vervoer word;
- Voertuie moet skoongemaak en met geregistreerde FMD-ontsmettingsmiddels ontsmet word ná elke vrag;
- As diere van verskillende oorspronge op een voertuig vervoer word, aanvaar hulle dieselfde gesondheidstatus;
- Voertuie wat gereeld vee vervoer, moet geregistreer wees; en
- Slegs geregistreerde ontsmettingsmiddels effektief teen FMD mag gebruik word, en volgens vervaardiger se instruksies.
OFM Agri mvh