Agriculture
Bek-en-klouseer: Eerste besending entstowwe afgelewer─── 12:04 Fri, 20 Jun 2025

Die minister van landbou, John Steenhuisen, het bevestig die eerste dosisse van die bek-en-klouseer-entstof wat vanaf Botswana bestel is, het in Suid-Afrika aangekom.
“Ek is baie bly om te sê dat die entstof nou oor die grens is en ons begin Maandag met die eerste inentings by voerkrale in Gauteng,” het hy aan die SABC gesê.
Die 900 000 dossise entstof vorm deel van ’n groter strategie om die uitbreking onder beheer te kry en langtermynplanne met die bedryf te bespreek. “Ons wil uiteindelik óf vry wees van bek-en-klouseer óf ten minste ons kompartementalisering aan die wêreld toon sodat ons nie in ons uitvoervermoë benadeel word nie.”
Hy het bevestig ’n tweede lot entstof is reeds by die Botswana Vaccine Institute bestel en dat KwaZulu-Natal en Gauteng as prioriteitsgebiede geïdentifiseer is vir die eerste rondte inentings. Met hierdie besending sal die tradisionele inentingsgebiede vir voorkomende inenting in Limpopo en Mpumalanga ook gedek word.
Uitbrekings is in KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap, Gauteng, Mpumalanga en Noordwes aangemeld, wat reeds ’n merkbare styging in beesvleispryse veroorsaak het. “Daar was ’n uitbreking by een van die groter voerkrale wat die vleisbedryf voorsien, wat gelei het tot ’n afname in beskikbare beesvleis.”
LEES OOK: Nuwe beheermaatreëls met betrekking tot bek-en-klouseer
Steenhuisen beklemtoon rooivleis in Suid-Afrika is steeds veilig om te eet. “Bek-en-klouseer raak nie mense nie. As mense ons boere wil ondersteun, is dit nou die tyd om beesvleis te koop.”
Hy sê die inentings sal gepaardgaan met kwarantynmaatreëls en pogings om produksie in voerkrale en abattoirs so gou moontlik te normaliseer.
Steenhuisen het ook verwys na verlede week se biosekuriteitsberaad in Pretoria, wat as ’n beduidende stap gesien word om die land se biosekuriteit te verbeter. “Biosekuriteit is almal se verantwoordelikheid – van die plaashek tot die veiling, die abattoir en die verbruiker.”
Hy het ook bevestig dat nuwe tussentydse regulasies vir die beweging en verkoop van diere reeds gepubliseer is. “Ons gaan dit streng toepas en oortreders moet die gevolge dra. Die ekonomiese impak van nalatigheid is eenvoudig te groot.”
OFM Agri cg