Agriculture
AgriSA waarsku teen VSA-tariewe: Landbou-uitvoer in gedrang─── 11:45 Tue, 08 Jul 2025

AgriSA het ernstige kommer uitgespreek oor die Verenigde State se besluit om vanaf 1 Augustus ’n invoertarief van 30% op alle Suid-Afrikaanse landbou-uitvoer toe te pas, en doen ’n beroep op dringende, strategiese optrede om die sektor te beskerm.
Pres. Cyril Ramaphosa het bevestig dat hy ’n formele kennisgewing van die VSA ontvang het oor ’n eensydige besluit om 30% invoertariewe op sekere Suid-Afrikaanse produkte toe te pas. Volgens hom is dié besluit gebaseer op ’n betwiste interpretasie van die handelsbalans tussen die twee lande. Suid-Afrika meen die heffing weerspieël nie die werklike handelsdata nie, aangesien 77% van Amerikaanse goedere tans belastingvry ingevoer word, terwyl die gemiddelde invoertarief in Suid-Afrika 7,6% is.
Johann Kotzé, uitvoerende hoof van AgriSA sê hoewel die Amerikaanse mark slegs sowat 4% van Suid-Afrika se totale landbou-uitvoer in 2024 verteenwoordig het – ter waarde van $488 miljoen – is die impak op sleutelkommoditeite soos sitrus, druiwe, wyn en neute beduidend. Die totale waarde van landbou-uitvoer beloop $13,7 miljard.
Minister van landbou, John Steenhuisen, het ook gewaarsku dat duisende landbouposte bedreig word en sê die regering sal dringend met die VSA in gesprek tree. Intussen ondersoek sy departement alternatiewe uitvoermarkte om die sektor te beskerm.
Sitrusbedryf en wynsektor op risiko
AgriSA vertel sowat 7 miljoen kartonne sitrus word jaarliks na die VSA uitgevoer, wat noodsaaklik is vir werkskepping en ekonomiese stabiliteit in landelike gebiede. Die tarief sal produksiekoste dramaties verhoog, met ’n verwagte verlies aan markaandeel aan mededingers soos Chili en Peru.
Die wynbedryf, reeds onder druk, kan volgens AgriSA “rampagtige gevolge” in die gesig staar. “Winsgewendheid word uitgeskakel en duisende werksgeleenthede is op die spel,” sê Kotzé.
Ander produkte ook geraak
Subtropiese vrugte, makadamianeute, bloubessies, steenvrugte en selfs volstruisleer en verestoffers word ook deur die nuwe tarief geraak. Makadamianeutboere het byvoorbeeld reeds beplande groei vir die uitvoermark wat nou bedreig word.
Dringende strategieë nodig
AgriSA vra dat die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging, die Departement van Landbou en Dirco dringend saamwerk om:
- Diplomatieke ooreenkomste te versterk, veral met streke soos ASEAN en BRICS;
- Tarief- en nie-tariefhindernisse te hanteer, sodat Suid-Afrikaanse produkte nie duurder en minder mededingend is nie;
- Uitvoermarkte te diversifiseer om die risiko van geopolitieke druk te verminder.
“Markdiversifikasie is nodig, maar dit gebeur nie oornag nie,” sê Kotzé. “Ons het ’n gekoördineerde, pragmatiese handelsbeleid nodig om die lewensvatbaarheid van Suid-Afrika se landbou te beskerm.”
AgriSA sê die situasie is ’n wekroep vir beleidsmakers en beklemtoon die noodsaak van volhoubare toegang tot globale markte om die toekoms van die landbousektor te verseker.
OFM Agri cg