On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Laurika
Listen Live Streams

Agriculture

Onsekerheid hang swaar oor sitrusuitvoer na VSA weens dreigende tariewe

───   12:24 Fri, 11 Jul 2025

Onsekerheid hang swaar oor sitrusuitvoer na VSA weens dreigende tariewe | News Article
Dr. Boitshoko Ntshabele, HUB van die Suider-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging. Foto: SKV

Die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf verkeer in ’n toestand van uiterste onsekerheid.

Dit ná die Trump-administrasie op 7 Julie formele kennisgewings aan 14 lande, insluitend Suid-Afrika, uitgereik het waarin aangekondig word dat ’n wederkerige invoertarief van 30% op sekere produkte vanaf 1 Augustus ingestel sal word.

Hierdie stap volg kort op die hakke van ’n 90-dae-tydelike vrystelling wat in April toegestaan is en op 9 Julie sou eindig. “Die 30%-tariewe sal Suid-Afrikaanse sitrus eenvoudig nie meer mededingend in die Amerikaanse mark maak nie,” waarsku dr. Boitshoko Ntshabele, hoof- uitvoerende beampte van die Suider-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging van (SKV) in ’n verklaring. 

Mededingers soos Peru en Chili word steeds teen ’n algemene tarief van slegs 10% belas.

Die SKV wys daarop dat talle produsente – veral in plattelandse gebiede van die Noord- en Wes-Kaap – nou sukkel om hul beplanning vir die res van die seisoen te finaliseer, wat eers in Oktober eindig. Dorpe soos Citrusdal, wat jare lank op die VSA-uitvoermark staatmaak, is veral kwesbaar.

“Ons produsente het hard gewerk om die VSA-mark te ontwikkel en verhoudings met uitvoerders en verbruikers aldaar te bou. Die vraag na ons gegeurde en kleurvolle sitrus het byna verdubbel sedert 2017.”

Hervat onderhandelinge met VSA

Die vereniging dring daarop aan dat die regering, spesifiek die departement van handel, nywerheid en mededinging, dringend die onderhandelinge met die VSA hervat en afsluit – onderhandelinge wat reeds in Mei vanjaar begin is. 

“Vars seisoenale produkte soos sitrus is nie fabriekprodukte wat jaardeur vervaardig word nie. Suid-Afrikaanse sitrus bedreig nie VSA-werkgeleenthede of plaaslike produsente nie. 

“Inteendeel, ons vul hul buiteseisoen en bevorder so die totale sitrusverbruik per capita.”

LEES OOK: Sitrusbedryf staan sterk tydens onseker tye

Met ’n verwagte toename in plaaslike produksie, mik die bedryf om teen 2032 minstens 100 000 nuwe werksgeleenthede te skep – maar dit sal net realiseer as bestaande marktoegang verbeter en nuwe markte ontsluit word. Tans mag slegs produsente in die Wes- en Noord-Kaap na die VSA uitvoer. 

“Breër toegang vir alle provinsies sal die potensiaal van hierdie mark ontsluit.”

OFM Agri mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.