Agriculture
BKS-Indaba: Harde waarhede in kalklig─── 20:03 Mon, 21 Jul 2025

’n Spesiale span sal ná die nasionale indaba oor bek-en-klouseer (BKS), wat tans in Pretoria gehou word, aangestel word om alle voorstelle in ’n tydgebonde aksieplan te konsolideer.
“Biosekuriteit is nie ’n las nie – dis ’n voorvereiste vir groei,” het John Steenhuisen, die minister van landbou, tydens die opening laat weet en gewaarsku Suid-Afrika se huidige stelsel om die siekte te bestuur, is nie meer volhoubaar nie.
“Ons veesektor word nie net bedreig deur biologiese oordrag nie, maar ook deur beleidsversaking, institusionele moegheid en verouderde reaksie-modelle.”
Hy meen in die hantering van die mees onlangse uitbreking het gebrekkige kommunikasie, vertragings met entstowwe, verwarring oor bewegingsbeheer en swak gereedheid op verskeie regeringsvlakke daartoe gelei dat produsente vertroue in die staat se kapasiteit verloor het.
Vier dringende hervormings is aangekondig:
1. Streekgebaseerde siektebeheer:
Twee senior veeartse is aangestel om ’n streeksgebaseerde raamwerk te ontwikkel dat dit nie nodig is om die hele land te benadeel indien ’n siekte in ’n bepaalde gebied uitbreek nie. Steenhuisen het benadruk dat dit nie wetenskap is wat ontbreek nie, maar koördinering, wetlike duidelikheid en kapasiteit.
2. Entstof-sekerheid:
Onderstepoort Biologiese Produkte het nie tans die infrastruktuur om vinnig genoeg entstowwe te vervaardig nie. Die staat beoog nou samewerking met die privaatsektor om ’n gesamentlik gefinansierde entstofbank te skep.
3. Infrastruktuur in beskermde sones:
Afwesigheid van plaaslike abattoirs en voerkrale dryf onwettige dierevervoer. Steenhuisen het fondstoedelings aangekondig vir nuwe fasiliteite in Limpopo, KwaZulu-Natal en Mpumalanga.
4. Wetenskaplike navorsing:
Steenhuisen het ’n beroep op die veebedryf gedoen om navorsing saam met die Landbounavorsingsraad en Universiteit van Pretoria se Biosekuriteitsentrum te finansier, onder meer deur statutêre heffings te herallokeer.
Hy het beklemtoon die indaba gaan nie oor skuld toewysing nie, maar oor sistemiese hervorming. “Ons moet die siklus van reaktiewe krisisbestuur breek en beweeg na ’n gesamentlike, vooruitdenkende strategie.”