Agriculture
Kan graanbedryf dalk eie spoornetwerk bedryf?─── 10:17 Wed, 06 Aug 2025

Suid-Afrika se graanbedryf het nou ’n duideliker beeld van die toekoms van spoorvervoer ná die pasgestigte Transnet Rail Infrastructure Manager (TRIM) onlangs sy voornemens rakende die graanbedryf uiteengesit het.
Moshe Motlohi, uitvoerende hoof van TRIM, het op 22 Julie 2025 met belanghebbendes uit die graansektor vergader tydens ’n sessie wat deur SACOTA, Agbiz en Agbiz Graan aangebied is.
TRIM is gevorm ná die regering se besluit om Transnet Freight Rail (TFR) in twee entiteite te verdeel – naamlik TRIM, wat die spoorinfrastruktuur sal bestuur, en die nuwe TFR, wat as ’n onafhanklike netwerkoperateur sal funksioneer. Hierdie nuwe model is deel van die regering se breër plan om die spoorvervoerstelsel te dereguleer en sodoende privaat deelname te bevorder.
Moshe Motlohi, uitvoerende hoof van TRIM. Foto: SACOTA
“Ons doel is om ’n meer doeltreffende en inklusiewe spoorbedryf te skep deur infrastruktuurbestuur en dienslewering te skei,” het Motlohi verduidelik. “Privaat operateurs sal dus toegang hê tot die netwerk mits hulle gelisensieer is deur TRIM.”
Volgens TRIM sal die bestaande netwerk in ’n A- en B-netwerk verdeel word. Die A-netwerk bestaan uit hoëprioriteitroetes, soos die konteinerlyn van Gauteng na Durban en die minerale lyn na Richardsbaai, en sal deur TRIM self onderhou word.
Die B-netwerk bestaan hoofsaaklik uit landelike taklyne wat silo’s bedien. Hierdie lyne – wat van kardinale belang vir graanvervoer is – val egter buite TRIM se kernstrategie.
LEES OOK: Sekerheidsbedryf ’n onmisbare skakel in landbou
“TRIM het nie tans die fondse of kapasiteit om die B-netwerk in stand te hou nie,” het Motlohi erken. “Ons is wel oop vir voorstelle van die bedryf self, ook rondom instandhouding en bedryf van hierdie lyne.”
’n Voorbeeld van sulke potensiaal lê in die vyf taklyne van die Oos-Vrystaat – ’n streek met 27 silo’s van waar af ’n beduidende deel van uitvoergraan per spoor na Durban verskuif kan word. Om hierdie roetes weer te aktiveer, sal daar egter samewerking tussen verskeie rolspelers moet wees.
Eerstens moet ’n gelisensieerde netwerkoperateur bereid wees om lokomotiewe en waens aan te wys om hierdie lyne te bedien. Tweedens moet privaat entiteite, buiten die silo-operateurs wat reeds hul eie sylyne onderhou, betrokke raak by die instandhouding van die hooflyne self.
Voorstelling van die lyne. Grafika: SACOTA
“Die onderhoud van ’n taklyn en die gebruik daarvan sal in die toekoms as afsonderlike dienste gesien word,” het Motlohi verduidelik.
Motlohi het bevestig dat die suksesvolle lisensiehouers vir netwerkbedryf teen einde Augustus aangekondig sal word. Sonder hierdie inligting kan verdere strategiese beplanning nie sinvol plaasvind nie.
“Die aankondiging van lisensiehouers is ’n belangrike mylpaal. Sonder dit weet ons nie wie ons potensiële vennote is nie,” lui die verklaring van SACOTA.
Vooruitsigte ná Oktober vaag
SACOTA beplan om lede te peil om vas te stel wie moontlik belangstel om deel te vorm van ’n konsortium. Sodra die lisensiehouers bekend is, sal die venster vir beplanning en aanbieding van voorstelle aan TRIM – in die vorm van ’n versoek om belangstelling – waarskynlik tot Oktober strek.
Tans is die vooruitsigte ná Oktober vaag, maar volgens SACOTA verstaan lede dat indien Suid-Afrika weer met ’n oorskotgraanoes in 2026 sit, uitvoere reeds teen einde April of vroeg in Mei moet begin.
“As die nodige reëlings nie betyds in plek is nie, loop ons die gevaar om nóg ’n ideale geleentheid vir spooruitvoer te mis,” waarsku hulle.
‘Internasionaal is spoorvervoer steeds aansienlik goedkoper as padvervoer’
In die drie jaar voor die droogte van 2024 kon die hawe van Durban sowat 350 000 ton graan per maand uitvoer, waarvan spoorvervoer ongeveer 175 000 ton – oftewel 50% – verteenwoordig het. Teen die einde van die vorige uitvoerseisoen het spoorvolumes egter gedaal tot slegs 10 000 tot 12 000 ton per maand – sowat 6% van kapasiteit.
Internasionaal is spoorvervoer steeds aansienlik goedkoper as padvervoer. In Suid-Afrika is dit gemiddeld twee derdes van die koste van padvervoer. “Hierdie besparing is dikwels die verskil tussen of Suid-Afrika mededingend op die wêreldmark is of nie,” lui die verklaring.
“Dit is dus noodsaaklik dat sleutelspoorlyne en -korridors herleef word.”