Agriculture
AfriForum eis ondersoek na polisiebetrokkenheid by veediefstal─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:39 Fri, 05 Sep 2025

’n Burgerregteorganisasie eis ’n formele nasionale ondersoek na beweerde polisiebetrokkenheid by veediefstal ná die inhegtenisneming van ’n polisiekonstabel van Mpumalanga.
Hy staan tereg op aanklagte wat verband hou met die diefstal van vee ter waarde van meer as R500 000. Siyabonga Cindi bly in aanhouding en sal na verwagting weer op 29 September in die hof verskyn.
Die saak, wat kom nadat vee van ongeveer R450 000 in die Standerton-, Greylingstad- en Perdekop-omgewing gesteel is, spruit nie uit ’n geïsoleerde voorval nie, sê Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder vir gemeenskapsveiligheid by AfriForum.
“In Maart vanjaar is Mokete Jacob Mokoena, stasiekommissaris van die Tweeling-polisiekantoor, skuldig bevind aan veediefstal. In Julie 2021 is vyf polisielede in die Vrystaat in hegtenis geneem op aanklagte van veediefstal, meineed en regsverydeling.”
Volgens Broodryk het Vrystaatse boere in 2019 ’n verslag by die Valke ingedien met gedetailleerde inligting oor ’n georganiseerde veediefstalsindikaat, insluitend name van verdagtes en bewyse van polisiebetrokkenheid.
Hierdie voortslepende sake onderstreep die dringende behoefte aan ’n omvattende ondersoek, beklemtoon AfriForum.
‘Korrupte polisiebeamptes vertrap die goeie werk van eerlike lede’
Hy sê die betrokkenheid by veediefstal van diegene wat veronderstel is om die landbougemeenskap te beskerm is uiters kommerwekkend. “Ten spyte van jare se inligting, bewyse en skuldigbevindings wat op polisiebetrokkenheid dui, blyk dit dat min gedoen is om die probleem uit te roei.
“Die polisie se betrokkenheid by veediefstal ondermyn die stryd wat die landbougemeenskap teen hierdie misdaad voer wat boere miljoene rande kos. Dit plaas ook menselewens in gevaar en bedreig boere se finansiële oorlewing,” sê hy.
Broodryk sê korrupte polisiebeamptes – veral in veediefstaleenhede – wat betrokke is by veediefstal, vertrap die goeie werk van eerlike en toegewyde lede en ondermyn die skrale vertroue wat die publiek steeds in die polisie het verder.
‘Misdaad in die polisie moet met wortel en tak uitgeroei word’
“Ons kan nie meer toelaat dat die einste mense en eenhede wat gestig is om boere en hul vee te beskerm, hul misdade onverpoos voortsit nie. Misdaad in die polisie moet met wortel en tak uitgeroei word, en ’n dringende, deursigtige ondersoek is dus nou noodsaaklik.”
Hennie Bekker, AfriForum se distrikkoördineerder vir die Hoëveld, voeg by die konstabel het sy magsposisie as polisiebeampte misbruik om homself te verryk. Hy was in ’n posisie om sy misdade toe te smeer deur sy betrokkenheid by die veediefstaleenheid.
“Dit is positief om te sien dat geregtigheid diegene kan inhaal wat die hulpbronne het om die wet te probeer omseil. Ons sal hierdie saak noukeurig monitor om te verseker dat geregtigheid geskied,” sê hy.
Die publiek word aangemoedig om deel te neem aan AfriForum se pogings om die borgtog van vermeende veediewe teen te staan. Foto: Facebook
Sedert Junie vanjaar het AfriForum opleidingsprogramme aan sy 170 buurt- en plaaswagte verskaf, wat hierdie burgerlike misdaadbestrydingspanne toerus met spesialiskennis om veediefstal te bestry. Kursusse sluit gespesialiseerde opsporingsopleiding in en word gratis aangebied.
Hierdie opleiding het reeds vrugte afgewerp, met buurt- en plaaswagte wat ’n aktiewe rol speel in verskeie suksesvolle veediefstaloperasies.
Bekker moedig die publiek aan om deel te neem aan AfriForum se pogings om die borgtog van vermeende veediewe teen te staan.
OFM Nuus mvh