Agriculture
SA se G20-presidentskap ‘verseker wêreldwye steun vir voedselsekerheid’─── 09:44 Mon, 22 Sep 2025

Suid-Afrika het ’n deurslaggewende mylpaal bereik toe die G20 se ministers van landbou die Verklaring van die Taakmag vir Voedselsekerheid aanvaar het – ’n verklaring “wat op die Afrika-filosofie van ‘Ubuntu’ geskoei is”.
Só meen John Steenhuisen, minister van landbou, wat sê hy is trots Suid-Afrika se presidentskap kon hierdie verbintenis verseker. “Dit is werklik ’n geskiedkundige dag. Die G20-ministers het erken ons kollektiewe voedselsekerheid berus op onderlinge afhanklikheid, waardigheid, agentskap en solidariteit.”
Die verklaring, wat onder die vaandel van Suid-Afrika se G20-presidentskap ontwikkel is, weerspieël die Ubuntu-beginsel “ek is omdat jy is”.
Dit beklemtoon niemand mag agtergelaat word in die strewe na volhoubare en veerkragtige voedselstelsels nie.
Die fokus verskuif nou van afsonderlike nasionale strategieë na ’n meer samewerkende benadering, sê Steenhuizen. Hy benadruk die ooreenkomste is nie net simbolies nie, maar bied praktiese instrumente om boere te ondersteun, markte te stabiliseer en kinders toegang tot voedsame kos te gee.
In die ministers se verklaring word op grond van die Ubuntu-benadering bepaalde prioriteite voorgestel:
- Die bekamping van voedselpryswisselings en aanhoudende inflasie, wat veral lae-inkomstehuishoudings raak.
- Beleggings in klimaatslim-landbou, soos droogtebestande saad, doeltreffende besproeiing en verminderde ná-oesverliese.
- Billike, inklusiewe en deursigtige voedselstelsels wat aan kleinskaalse en familieboere beter toegang tot finansiering en markte gee.
- Maatskaplike-beskermingsmaatreëls soos skoolvoeding en geteikende toelaes vir kwesbare gemeenskappe.
- Volhoubare hulpbronbenutting en die bevordering van diversifisering in mense se voeding, insluitend peulgewasse, seekos en geregte met ’n hoë voedingswaarde.
Verbintenisse bevestig
Die ministers se verklaring herbevestig die G20-lede se verbintenis tot multilateralisme, die 2030-agenda vir Volhoubare Ontwikkeling, die Parys-ooreenkoms en die Afrika-unie se strategie die Omvattende Afrika-landbouontwikkelingsprogram (CAADP). Dit erken ook uitdruklik dat die reg op voedsel ’n fundamentele mensereg is.
Die verklaring verwys na die State of Food Security and Nutrition in the World Report (2025), wat toon sowat 638 tot 720 miljoen mense het in 2024 honger ervaar – ’n afname van 15 miljoen teenoor 2023. \
Die getal mense wat nie ’n gesonde dieet kan bekostig nie, het ook van 2,8 miljard in 2019 tot 2,6 miljard in 2024 gedaal. Tog waarsku die verklaring honger neem steeds toe in sekere Afrika-streke en Wes-Asië.
’n “Ontstellende paradoks” word uitgelig: Die wêreld produseer genoeg kos, maar miljoene mense is steeds sonder voedsame kos. In die verklaring word daarop gewys beskikbaarheid is nie outomaties gelyk aan toegang nie, en wanvoeding bedreig steeds miljoene kinders se gesondheid en ontwikkeling.
Daar word ook besorgdheid uitgespreek oor konflik, klimaatsverandering, biodiversiteitsverlies en skuldlas wat voedselstelsels verswak. Die verklaring steun maatreëls om hierdie druk te verlig en ontwikkelende lande te help om armoede en ongelykheid beter te hanteer.
Met die G20-leiersberaad wat in November in Johannesburg plaasvind, het Steenhuisen beklemtoon hierdie verbintenisse sal verder gevoer word. “Afrika se prioriteite en perspektiewe sal stewig ingebed wees in die wêreldwye stryd teen honger, wanvoeding en voedselsekerheidsuitdagings.”
OFM Agri ebk