On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Wêreldgronddag: Grond en water is onskeibare vennote

───   ISABEL VAN TONDER 10:29 Thu, 04 Dec 2025

Wêreldgronddag: Grond en water is onskeibare vennote | News Article
Suid-Afrika se waterbronne is een van sy mees onderskatte bates. Foto: Pexel

Saam is grond en water ’n lewensbron.

Dié tema van Wêreldgronddag (5/12) is ’n wekroep vir mense wêreldwyd om dit as feit te erken, maar wat die landbou betref, strek dit verder as bewusmaking. Dit herinner daaraan dat hierdie twee lewensnoodsaaklike hulpbronne sáám bestuur moet word.

Kenners maan grond en water is nie afsonderlike uitdagings nie; dit is een geïntegreerde stelsel wat voedselveiligheid, klimaatveerkragtigheid en langtermyn volhoubaarheid van landbou onderlê.

Grond en water word bedreig deur toenemende uitdagings, wat ál moeiliker word om te bestuur en versag. Klimaatverandering, wisselvallige reënval, langer droogtesiklusse, menslike druk, besoedeling, nywerheidsuitskot en stedelike afval is die vernaamste oorsake van die groeiende waterskaarste.

‘Waterskaarste vererger grondagteruitgang’

“Grondagteruitgang is ’n dringende kwessie,” sê prof. Driekie Fourie, nematoloog by Syngenta Seedcare. Bogrond, die produktiefste laag vir landbou, is besonder kwesbaar, veral weens chemiese, biologiese en bestuursverwante agteruitgang, sê hy.

“Waterskaarste vererger grondagteruitgang,” voeg hy by. “Die verhoging van organiese materiaal in grond is van kardinale belang. Boere kan die waterhouvermoë van grond verbeter deur die byvoeging van kompos of mis, die gebruik van dekgewasse en … herlewingslandboumetodes.”

Die dun laag rondom plantwortels is waar water, grond, biologie en plantgesondheid ontmoet, vertel hy. Dit is die enjinkamer van landbou. Dit is juis ook waar bedreigings voorkom, soos plantparasitiese aalwurms, swamme, patogene, bakterieë en viruses.

Grond en water is onskeibare vennote. Foto: Pexel

Sowat 60% van die grond in die wêreld het reeds agteruitgegaan en 91% word bedreig deur woestynvorming. Dit maak innoverende benadering tot grondbestuur noodsaaklik.

Gehaltegewasse het water van goeie gehalte nodig; die beskerming van waterbronne is ononderhandelbaar. Landbou gebruik 70% van die wêreld se vars water, en die vraag sal aanhou styg namate bevolkings groei.

Die oplossing lê in presisie-besproeiing (toepaslike volumes water waar nodig), die opvang van reënwater (berging vir droë tydperke) en verantwoordelike waterbestuur.

Doelbewuste stappe nodig

Doelbewuste stappe moet gedoen word om waterskaarste, wisselvallige reënval en grondagteruitgang te bestuur deur aalwurmmonsterneming, die bou van grondgesondheid, verhoogde organiese materiaal, gewasbeskerming en saadbehandeling, wat behoorlike gewasbeskerming behels.

Suid-Afrika se grond en waterbronne is van die land se mees onderskatte bates, maan Fourie. Om dit te beskerm is nie net die landbou se verantwoordelikheid nie; dit is die land s’n. Die kerndoelwit moet grondherlewing wees wat met waarneming begin, proaktiewe optrede en toewyding.

“Die toekoms van voedselveiligheid hang af van die lewende laag onder ons voete,” sê die grondwetenskaplike William Bryant Logan. “Wanneer ons grond herstel, herstel ons die planeet.”

Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

OFM Agri/Isabel van Tonder cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.