Agriculture
Biosekuriteit eerste, Nampo sê nee vir gespletehoefdiere─── ISABEL VAN TONDER 09:27 Sat, 07 Feb 2026
Graan SA en die Nampo-bestuur bevestig dat geen gespletehoefdiere by die Nampo Oesdag toegelaat sal word nie.
Nampo Oesdag vind vanjaar vanaf 12-15 Mei plaas te Nampo Park, Bothaville. Hierdie besluit volg ná die bek-en-klouseer-uitbrekings (BKS) in Suid-Afrika.
Gespletehoefdiere sluit in beeste, skape, bokke en varke – diere wat bekend is daarvoor dat hulle die BKS-virus kan dra en versprei.

Uitsonderlike landboutoerusting word elke jaar by Nampo uitgestal. Foto: Astrid Pretorius
“Bek en klouseer het nou letterlik naby aan die huis gekom. As beskermers van biosekuriteit kan ons dit nie waag om ’n platform te skep waar risiko’s nie effektief beheer kan word nie,” sê Danie Minaar, voorsitter van die Nampo Oesdagkomitee.
Die onlangse besluit om die Bloemskou te kanselleer, asook sterk aanbevelings vanuit die Vrystaatse departement van landbou dat die risiko rondom dierebyeenkomste tans te hoog is, het die erns van die situasie onderstreep.
Dié besluit is geneem na ’n vergadering tussen Nampo, Graan SA en die verskeie telersgenootskappe.
Besluite
- Geen gespletehoefdiere sal by Nampo 2026 toegelaat word nie;
- Nierisiko diere soos perde, honde en pluimvee sal wel toegelaat word, onderhewig aan streng biosekuriteitsmaatreëls;
- Alle diere en voertuie wat betrokke is by dierverwante aktiwiteite sal gespuit en ontsmet word;
- Praktiese biosekuriteitsmaatreëls vir besoekers word tans ondersoek en verder verfyn; en
- Bewusmakingsinisiatiewe oor biosekuriteit sal regdeur die Nampo Oesdag geïntegreer word.
Volgens Graan SA is dit belangrik dat telersgenootskappe steeds hul stalletjies sal beman en aangemoedig word om kreatief en innoverend te wees. Besoekers kan uitsien na ’n nuwe ervaring waar rasse se voordele en prestasies op kreatiewe maniere met tegnologie en slim bemarking uitgebeeld gaan word.

Stalletjies word aangemoedig om kreatief deel te wees van Nampo Foto: Graan SA
Hoewel die diere nie teenwoordig sal wees nie, sal Nampo 2026 die geleentheid gebruik om die publiek, produsente en rolspelers meer bewus te maak van die belangrikheid van biosekuriteit, die verspreiding van BKS en watter praktiese stappe produsente kan neem om hul eie bedrywighede te beskerm.
Volgens Minnaar beteken verantwoordelike besluitneming soms om moeilike keuses vroeg te maak.
“Hierdie besluit is geneem in die beste belang van die bedryf, produsente en Suid-Afrika se dieregesondheid.”
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

