On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Minder veediefstal aangemeld, maar is dit akkuraat?

───   ELSABÉ RICHARD 10:55 Thu, 12 Mar 2026

Minder veediefstal aangemeld, maar is dit akkuraat? | News Article
Veediefstal in Kanana, Noordwes. Foto/SA Polisiediens in Noordwes

Vrae word geopper oor die akkuraatheid van die jongste veediefstalsyfers.

’n Burgerregteorganisasie voer aan die polisie se statistieke weerspieël nie die volle omvang van dié misdaad op SA se platteland nie. Boonop gaan boere gebuk onder bek-en-klouseer (BKS), wat bydrae tot ’n prentjie wat allermins rooskleurig is.

Prof. Firoz Cachalia, waarnemende polisieminister, het in Februarie die misdaadsyfers vir die derde kwartaal, Oktober tot Desember, van 2025/26 bekendgemaak. Daarvolgens het veediefstal, wat deur die polisie as eiendomsmisdaad beskou word, met 670 gevalle tot 6 295 afgeneem vergeleke met dieselfde tydperk ’n jaar vantevore.

In die Vrystaat is 619 gevalle aangemeld, 23 minder; in Noordwes 750 gevalle, 26 minder; en in die Noord-Kaap 191 gevalle, twee minder. Die polisiekantore Taung, Mogwase en Pudimoe in die Dr. Ruth Segomotsi Mompati-distrriksmunisipaliteit in Noordwes is onder die top-30-brandpunt waar veediefstal veral ’n probleem is. Geen van Vrystaatse of Noord-Kaapse polisiekantoor tel onder die top-30 nie.

Die top 30-brandpunt-polisiekantore waar veediefstalgevalle die meeste aangemeld is. Foto/Suid-Afrikaanse Polisiediens

Dié syfers weerspieël egter nie boere se werklike belewenis nie, meen Afriforum. “Groot getalle vee word steeds gesteel en onregmatig verkoop of geslag,” sê verduidelik Hennie Bekker, distrikskoördineerder vir die Mpumalanga-Hoëveld.

“Dit word egter telkens nie meer by die veediefstaleenhede aangemeld nie omdat boere, weens ernstige hulpbrontekorte en bewerings van korrupsie in dié eenhede, vertroue in die waarde van aanmelding en die suksesvolle oplossing en vervolging van dié misdade verloor het.”

Die Rooivleisprodusenteorganisasie in Noordwes het juis ook sy kommer uitgespreek oor veediefstal deur te beklemtoon dis ’n misdaad teen die land se ekonomie en voedselsekerheid.

Die provinsiale polisie berig gereeld oor verdagtes wat aangekeer word vir veediefstal in verskeie dele van Noordwes. Eienaars van beeste, skape, bokke en varke word daarom herinner dit is verpligtend om vee te brandmerk ingevolge die Wet op Diere-identifikasie (Wet 6 van 2002).

In die Vrystaat vra die polisie nouer samewerking tussen boere, gemeenskappe en wetstoepassers wat van kritieke belang is om veediefstal te bekamp. Tydens die provinsie se jongste uitreiking van die misdaadsyfers het die waarnemende Vrystaatse polisiekommissaris gesê ’n satelliet-veediefstaleenheid is op Jacobsdal opgerig om gemeenskappe te bedien waar boere voorheen lang afstande moes aflê om sake aan te meld. Dit sal na verwagting eindelik ’n volwaardige veediefstalondersoekeenheid word soos die vraag na sy dienste groei.

Hoe om veediefstal te voorkom

Die Noord-Kaapse polisie gee die volgende wenke aan boere om te help voorkom dat hulle slagoffers van veediefstal word:

  • Hou alle heinings en hekke  in stand om vee te beskerm.
  • Wees veral waaksaam tydens volmaan, oor naweke en aan die einde of begin van elke maand, of gedurende periodes wat jy uit ondervinding weet wanneer veediefstal plaasvind.
  • Weet wie jou bure is.
  • Tel vee ten minste een keer per week – ’n deeglike veeregister kan skaars genoeg beklemtoon word.
  • Brandmerk alle vee. Nader jou plaaslike polisie se veediefstaleenheid vir aansoekvorms om aansoek te doen om brandmerksertifikate by die departement van landbou.
  • Boere word aangeraai om in tegnologie soos kring-TV-kameras te belê wat ook sal help om veediefstal te bekamp.

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

OFM Agri/Elsabé Richard-May



@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.