Agriculture
Samewerking sleutel tot volhoubare besproeiing in Noordwes─── ELSABÉ RICHARD 10:52 Fri, 20 Mar 2026
Een van die hoofdoelwitte van die Taung-besproeiingskema se simposium was om volhoubare produksieparameters te ontwikkel ter ondersteuning van ekonomiese groei en landbouontwikkeling in Noordwes.
Die geleentheid, wat vandeesweek in Taung met die tema Op Pad na Volhoubare Besproeiingskemas plaasgevind het, het die regering, boere, navorsers en ander belanghebbendes byeengebring om te besin oor die doeltreffendheid van waterverbruik, innoverende tegnologieë en strategieë om besproeiingstelsels te verbeter.
Die Taung-besproeiingskema is die grootste in Suid-Afrika en is geleë tussen die Noord-Kaap en Noordwes. Dit is in die laat 1930’s gevorm deur sewe koöperasies: Bosele, Ipelegeng, Tshenolo, Rethuse Re Dire, Tshediso, Are Ageng Mmogo en Kgosietsile. Die skema funksioneer hoofsaaklik met spilpuntbesproeiingstelsels.
Die provinsiale regering het voorheen daarop gewys boere wat van besproeiing afhanklik is, worstel met verskeie uitdagings, waaronder ouerwordende infrastruktuur, beperkte marktoegang en hoë water- en elektrisiteitskoste. Dié uitdagings belemmer hul groei en ontwikkeling.

Madoda Sambatha, Landbou en Landelike Ontwikkeling LUR, spreek boere en belanghebbendes toe by die simposium. Foto: Facebook/North West Department of Agriculture and Rural Development
’n Boer wat van die skema gebruik maak, het voorheen aan die provinsiale landboudepartement gesê hy benut slegs 10 ha van die 2 800 ha grond tot sy beskikking. Volgens hom is dit hoofsaaklik weens ’n gebrek aan kapitaal en ander ondersteuning, wat hy grootliks toegeskryf het aan die infrastruktuur se ouderdom.
Volgens ’n studie van 2018 het die besproeiingskema kleinskaalse boere gehelp om ’n inkomste te verdien, wat hulle in staat gestel het om basiese toerusting soos gieters, beesploeë en skoffels aan te skaf en hul produktiwiteit te verhoog.
Verlede jaar is in ’n studie bevind dat, omdat boere danksy die skema meer gereeld gewasse kan verbou en bestendiger hoër opbrengste kan kry, dit ook bydra tot voedselsekerheid.
Suid-Afrika se waterprobleme
Suid-Afrika se waterbronne verkeer onder druk. Sowat 60% van vars water word aan besproeiingslandbou toegeken. Ongeveer 300 kleinskaalse besproeiingskemas bestaan in dié waterarm land, maar baie het reeds ineengestort, terwyl ander tot hul volle potensiaal funksioneer.
Agri SA beklemtoon besproeiingskemas kan ’n belangrike rol speel om die gevolge van droogtes te temper.
Die landboudepartement sê samewerking tussen belanghebbendes is noodsaaklik om volhoubare, doeltreffende en veerkragtige besproeiingstelsels te ontwikkel.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
