Agriculture
TLU SA bekommerd oor entstofproduksie─── ISABEL VAN TONDER 11:18 Wed, 08 Apr 2026
’n Landbouorganisasie neem met kommer kennis van die landbouminister se verklaring oor entstofproduksie.
John Steenhuisen wil met die mediaverklaring oor die produksie van entstowwe by die Landbounavorsingsraad (LNR) die bedryf gerusstel oor die stryd teen bek-en-klouseer. Tog het TLU SA ernstige vrae oor die praktiese uitvoering en doeltreffendheid van die huidige strategie.
Volgens sy betrokkenheid en waarnemings is uitdruklik gestel ’n trivalente entstof, wat die SAT1, SAT2 en SAT3 stamme insluit, sou ontwikkel en beskikbaargestel word. Produksie sou verlede maand begin het met ’n doelwit van 20 000 dosisse per week.
Die werklikheid lyk tans heeltemal anders, sê TLU SA. Pleks daarvan dat ’n trivalente entstof beskikbaargestel word, blyk dit dat slegs entstowwe vir een stam vervaardig en versprei word.

Die beloftes van die departement en die realiteit klop nie op die oomblik nie. Foto: Farmwell
Die organisasie bevraagteken ook die regulatoriese aspek van die entstof. Die entstof wat op 6 Februarie by Onderstepoort besigtig is, is as ’n geregistreerde trivalente entstof vir drie stamme voorgehou. Tog behels die samestelling vyf komponente: stam 1 en sy mutasie, stam 2 en sy mutasie, asook stam 3.
“Die vraag wat gevra moet word,” sê Henry Geldenhuys, TLU SA-president, “is of daar wel goedkeuring verkry is om hierdie vyf komponente, wat saam entstof vorm, individueel te produseer. Indien nie, beteken dit dat ’n entstof nou buite sy geregistreerde samestelling vervaardig word.”
‘Dit is onverantwoordelik om entstowwe beskikbaar te stel
wat net op een stam gemik is’
Volgens wetenskaplikes kan so ’n entstof nie eensydig opgebreek word om slegs een stam afsonderlik te vervaardig en te versprei nie. Dit is onverantwoordelik om entstowwe beskikbaar te stel wat net op een stam gemik is, meen Geldenhuys, want al drie stamme kom in Suid-Afrika voor.
TLU SA bevraagteken die afwyking van die oorspronklike plan soos gekommunikeer deur die departement en is bekommerd oor die pas waarteen besluite geneem en uitgevoer word.

Daar gaan kosbare tyd verlore en boere betaal die prys in die oneffektiewe hantering van BEK. Foto: Pexel
Twee maande het verloop sedert die eerste aansoeke ingevolge Artikel 10 wat verwys na aansoeke deur die privaatsektor in reaksie op die staat se hantering van die krisis, aan Steenhuisen voorgelê is. Steeds is daar geen finale uitsluitsel nie, sê Geldenhuys.
Hierdie vertraging, tesame met die gebrek aan belyning met Artikel 9 oor bewegingsbeheer, lei tot verdere onsekerheid en ekonomiese skade vir produsente.
“Die vraag wat die departement hom moet afvra, is eenvoudig: Waarom wil ons hierdie proses alleen beheer as ons nie die kapasiteit en kundigheid het nie? Kontrakteer internasionale laboratoriums wat oor die nodige kapasiteit en kundigheid beskik.”
Sy organisasie het uit die staanspoor klem gelê op spoed en dringendheid, sê Geldenhuys. “Tog sien ons geen daadwerklike vordering nie – kosbare tyd wat verlore gaan terwyl boere die prys betaal.”
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
