On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Noordwes-landbou: Goeie reën, maar groot uitdagings knou produsente

───   ELSABÉ RICHARD 10:50 Thu, 26 Mar 2026

Noordwes-landbou: Goeie reën, maar groot uitdagings knou produsente | News Article
Agri Noordwes moedig boere aan om saam te staan. Foto: Kindel Media/Pexels

Die landboutoestande in Noordwes toon ’n gemengde prentjie.

Naudé Pienaar, uitvoerende hoofbestuurder van Agri Noordwes, sê hoewel laat seisoenreën broodnodige verligting gebring het, heers groot kommer oor stygende dieselpryse en die uitbreking van bek-en-klouseer. Die onlangse neerslae het ’n beduidende voordelige uitwerking op gewasse en veldtoestande gehad, sê Pienaar. 

“Wat die natuur betref, lyk dit goed. Die laat reën beteken baie vir ons produsente.” Tog word hierdie goeie vooruitsigte oorskadu deur ekonomiese en biosekerheidsuitdagings wat boere onder groot druk plaas.

Die uitbreking van bek-en-klouseer bly een van die grootste struikelblokke. Amptelike syfers van die provinsiale landboudepartement dui op 191 bevestigde gevalle in Noordwes teen middel-Maart, maar volgens Pienaar se inligting het ’n enkele distrik 143 vermoedelike gevalle.

“Daar is ’n groot verskil tussen wat op papier gerapporteer word en wat ons op grondvlak ervaar,” sê hy.

Stadige implementering van biosekuriteitsmaatreëls

Hy kritiseer die stadige toepassing van maatreëls om die virus te bestry. Ten spyte van gereelde vergaderings en verskeie planne, sê Pienaar, word min vordering gemaak. ’n Bewegingsprotokol, waarvoor lank reeds gevra word, is steeds nie in werking gestel nie.

Intussen word entstowwe ook teen ’n stadige tempo toegedien. Ongeveer 150 000 dosisse is aan Noordwes beskikbaar gestel, waarvan sowat 74 000 reeds gebruik is.

“Dit is uiters frustrerend om te weet entstof is beskikbaar, maar dit bereik die diere wat dit nodig het nie vinnig genoeg nie,” sê hy. Die privaat sektor het aangebied om met inentings te help, maar dié hulp is nog nie benut nie weens administratiewe vertragings.

Die siekte en gepaardgaande beperkings het ook ’n ernstige uitwerking op boere se geldsake. Baie produsente sukkel met kontantvloei omdat hulle nie hul vee kan verkoop nie. Kwarantynmaatreëls word ook nie konsekwent toegepas nie. Sommige plase word vir tot twaalf maande onder kwarantyn geplaas, terwyl ander gebiede aan net drie maande se beperkings onderwerp word.

Agri Noordwes vra intussen die nasionale landboudepartement moet ingryp. Die organisasie is ook betrokke by verskeie ondersteuningsinisiatiewe, insluitend rampfondse en die program Vriende van die Noordwes-boer, wat die publiek en ondernemings aanmoedig om by te dra.

Ten spyte van die uitdagings bly Pienaar hoopvol. Hy moedig alle boere – nie net veeboere nie, maar ook graanprodusente – aan om saam te staan. “Moenie moed opgee nie … Dis nou die tyd om saam te staan, (saam) planne te maak.

“Om ons saak met ons Skepper reg te maak. Ons saak met mekaar reg te maak … Daar ís ’n oplossing. Daar is ’n plan. Ons moet net nie fokus verloor nie.” 

OFM Agri/Elsabé Richard-May  sm

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.