Agriculture
TLU SA bou voort op jong talent en jare lange diens─── MORNÉ VAN ROOYEN 10:42 Thu, 03 Sep 2026
TLU SA wil op die momentum van sy 2026-toekennings voortbou deur jong landboutalent verder te ontwikkel en mense te erken wat georganiseerde landbou versterk.
Die organisasie het tydens sy jaarlikse kongresdinee in Pretoria erkenning gegee aan jong boere, ervare landbouleiers en persone wat op verskillende terreine ’n bydrae tot die bedryf lewer. Bertus Joubert is as TLU SA se jongboer van die jaar aangewys, met Gerhard Heinlein tweede en Marissa Solms derde.
Joubert ontvang die gebruik van ’n BYD Shark-inprophibriedbakkie vir twaalf maande, asook ’n tegnologieborgskap van SmarTime en iNspexia vir 36 maande ter waarde van R124 000.
Bennie van Zyl, TLU SA-hoofbestuurder, sê die beoordelaars kyk jaarliks verder as bloot produksiesyfers wanneer hulle finaliste op hul plase besoek.

Jurgens Koen (middel) van Rustenburg is as die eerste Jeugboer van die Jaar aangewys. By hom is sy pa, JJ, en Willie Aucamp, minister van landbou. Foto verskaf
Volgens hom het Joubert se boerdery uitgestaan vir presisie, netheid, deeglike beplanning en die manier waarop verskillende aspekte van die onderneming in een bestuursraamwerk saamkom.
“Jy beleef onmiddellik ’n baie groot passie, ’n ingesteldheid, ’n toekomsverwagting en ’n verantwoordelikheidsaanvaarding van wat dit verg om boer te wees,” sê Van Zyl. Joubert verstaan dat boere vooruit moet beplan vir uitdagings en hul ondernemings só moet bestuur dat skokke geabsorbeer of herlei kan word.
Die organisasie het ook sy jeugboer van die jaar-kompetisie gebruik om jong mense reeds vroeg aan landbou bloot te stel.
Jurgens Koen is as die 2026-wenner aangewys en ontvang kontantpryse van Morgan Group en Design Biologix. Morgan Group het ook R50 000 vir die voortbestaan en groei van die kompetisie bewillig.
Van Zyl sê die doel is om ’n liefde vir landbou reeds van kleins af te kweek. “Landbou begin eintlik al by moedersknie,” sê hy. Baie kinders begin reeds op plase, kleinhoewes en selfs in tuine met eenvoudige landbou-aktiwiteite wat later tot groter belangstelling en ondernemingsgees kan ontwikkel.
Ervaring en jare lange diens het ook sterk tydens die dinee gefigureer. Wannie Scribante het die Nico Kilian-trofee ontvang as TLU SA se landboupersoonlikheid van die jaar, terwyl Tom Moodie met erelidmaatskap vereer is vir minstens tien jaar se diens aan georganiseerde landbou op nasionale vlak.
Presidentstoekennings is aan Louwrens Mahoney, Carlo Smuts, Ruan Jordaan en Henry Lubbe toegeken vir hul Coast to Coast 4 Farmers-inisiatief.
Dr. Danie Odendaal en dr. Faffa Malan het ook elk ’n Presidentstoekenning ontvang vir hul bydraes tot landbou, waaronder veeartsenykundige kundigheid, navorsing en ondersteuning aan boere.
Van Zyl sê dit is belangrik om mense wat ’n verskil maak, raak te sien en daarvoor dankie te sê. Hy het Odendaal se rol tydens uitdagings soos bek-en-klouseer uitgesonder en Malan se jare lange betrokkenheid by landbou beklemtoon.
Die toekennings erken volgens hom mense wat stabiliteit, kennis en bewusmaking in die bedryf bevorder.
Die aand het ook ’n ligter hoogtepunt opgelewer toe Wykus Lamprecht die Goliat van Gat Pampoenkompetisie met ’n pampoen van 653 kg gewen het.
TLU SA sê die hele toekenningsprogram sluit aan by sy kongrestema, Landbou: Begrond. Beskerm. Bewaar, met die klem op nuwe talent én mense wat reeds jare lank die bedryf help dra.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

