On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

TLU SA verwelkom groter rol vir private sektor in BKS-entstofproduksie

───   15:07 Wed, 23 Sep 2026

TLU SA verwelkom groter rol vir private sektor in BKS-entstofproduksie | News Article
TLU SA verwelkom groter rol vir private sektor in BKS-entstofproduksie. Foto: SABC Nuus

TLU SA verwelkom die besluit om private vervaardigers toe te laat om Suid-Afrika se plaaslik ontwikkelde bek-en-klouseer-entstof (BKS) op groter skaal te vervaardig.

Landbouminister Willie Aucamp het Dinsdag (22/9) aangekondig dat die Landbounavorsingsraad (LNR) kwalifiserende plaaslike en buitelande maatskappye onder voorwaardelike lisensieooreenkomste toegang tot sy intellektuele eiendom vir die entstof kan gee. Dit moet die LNR se huidige produksiebeperkings help oorkom en meer entstof beskikbaar stel.

Die LNR se raad het Aucamp se voorstel Maandag eenparig aanvaar. Die plaaslik ontwikkelde entstof bied volgens die departement beskerming teen Suid-Afrikaanse BKS-virusstamme en vereis een toediening per jaar, maar die LNR kan dit tans nie in die hoeveelhede vervaardig wat die land benodig nie.

Bennie van Zyl, TLU SA-hoofbestuurder, sê die besluit kan bykomende vervaardigingskapasiteit ontsluit sonder dat die bestaande wetenskaplike en regulatoriese vereistes verslap word. Private vervaardigers sal steeds ’n lisensieooreenkoms met die LNR moet sluit en aan voorgeskrewe vervaardigings-, gehalte- en veiligheidsvereistes moet voldoen.

“Die betrokkenheid van die privaat sektor beteken nie dat die bestaande vereistes en beheermaatreëls wegval nie,” sê Van Zyl. Volgens hom dui inligting wat TLU SA van veeartse en akademici ontvang daarop dat die LNR-entstof tans besonder geskik is vir die virusstamme wat in Suid-Afrika voorkom.

’n Verdere voordeel kan die duur van immuniteit wees. TLU SA sê die LNR-entstof kan na verwagting beskerming van tot ’n jaar bied, terwyl sommige ingevoerde entstowwe ongeveer drie tot ses maande se immuniteit bied. Langer beskerming kan die praktiese en finansiële las van meer gereelde inenting vir produsente verminder, sê Van Zyl.

Aucamp het vroeër gesê die private sektor sal die LNR aanvul en nie as vervaardiger vervang nie. Die raad gaan sy eie produksievermoë terselfdertyd uitbrei, terwyl enige inkomste uit die lisensie-ooreenkomste teruggeploeg sal word om die LNR se interne BKS-entstofvervaardigingskapasiteit verder op te bou.

TLU SA meen groter deelname deur bevoegde vervaardigers kan eindelik ook beskikbaarheid verbeter en meer mededinging moontlik maak. Die prys sal egter van onder meer lisensievoorwaardes, regulatoriese vereistes, vervaardigingskoste en die kommersiële haalbaarheid van produksie afhang. Aucamp het ook gewaarsku dat groter produksie nie onmiddellik beskikbaar sal wees nie.

Nog ’n belangrike stap volg in Oktober wanneer verteenwoordigende Suid-Afrikaanse BKS-virusisolate na die Pirbright-instituut in Brittanje gestuur word. ’n Tweede ronde entstofpassing sal daar bepaal hoe goed plaaslike en ingevoerde entstowwe pas by die virusse wat tans in Suid-Afrika sirkuleer.

“Dit is belangrik dat daar voortdurend getoets word of die entstof steeds die stamme wat in Suid-Afrika voorkom, voldoende aanspreek,” sê Van Zyl. Virusveranderinge moet vroeg opgespoor word sodat beheermaatreëls betyds aangepas kan word, terwyl lisensiëring en groter produksie volgens TLU SA sonder onnodige vertragings afgehandel behoort te word.

OFM Agri sm

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.