On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

AgriSA en ISS snoer kragte teen misdaad op platteland

───   10:30 Wed, 30 Sep 2026

AgriSA en ISS snoer kragte teen misdaad op platteland | News Article
Foto ter illustrasie: SAPD

AgriSA en die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) snoer kragte saam om die oorsaak van misdaad in plattelandse gebiede beter te verstaan en praktiese maniere te vind om veiligheid in dié gemeenskappe te verbeter.

Die twee organisasies het ’n memorandum van verstandhouding onderteken wat hul samewerking formaliseer. Die ooreenkoms maak voorsiening vir die insameling, deel en gesamentlike ontleding van data oor landelike misdaad. 

AgriSA het die landbounetwerk en die ISS onafhanklike, kundige navorsing om dié vennootskap te laat werk. 

Dit kom te midde van ’n openbare debat oor plaas- en plattelandse misdaad waar uiteenlopende syfers en sterk menings dikwels bots. Betroubare data en onafhanklike ontleding kan ’n grondslag skep om die omvang en aard van misdaad beter te verstaan.

Johann Kotzé, uitvoerende hoof van AgriSA. Foto: AgriSA

Misdaad op plase kan nie losstaande beskou word van die veiligheid van omliggende dorpe en gemeenskappe nie.  Boere, plaaswerkers, landbouondernemings en ander inwoners van landelike gebiede word almal daardeur geraak. Doeltreffende voorkoming hang af van plaaslike polisiëring en goeie samewerking tussen gemeenskappe en die polisie.

Die nuwe vennootskap sal tendense in plattelandse misdaad ontleed om die faktore wat geweld en misdaad aandryf, beter te verstaan. Die bevindinge moet praktiese voorkomingsmaatreëls bepaal en ook help met gesprekke met die polisie en die regering oor Suid-Afrika se breër reaksie op landelike veiligheid.

“Landelike veiligheid vereis ons beweeg verby uiteenlopende statistieke en fokus op wat die bewyse vir ons sê,” sê Johann Kotzé, AgriSA se uitvoerende hoof. AgriSA bring die ervaring en reikwydte van georganiseerde landbou, terwyl die ISS onafhanklike navorsing en kundigheid oor misdaad en geregtigheid bydra, sê hy.

‘Minder aannames, meer feite oor misdaad’

Die samewerking moet ook help om uiteenlopende databronne beter met mekaar te vergelyk en leemtes in bestaande inligting uit te wys. Só kan voorkomingspogings meer doelgerig wees en kan gesprekke oor veiligheid op die platteland minder deur aannames en meer deur verifieerbare feite gedryf word.

Die doel is om dié kennis in praktiese ingrypings te omskep wat mense wat in landelike gemeenskappe woon en werk veiliger kan maak. 

Plaaslike ervaring bly belangrik omdat georganiseerde landbou toegang het tot kennis uit gebiede wat nie altyd maklik deur gewone databronne bereik word nie, meen die organisasies.

Betroubare inligting uit gemeenskappe moet daarom met deeglike onafhanklike ontleding gekombineer word om patrone van geweld beter te verstaan en vas te stel watter voorkomingsmaatreëls werk. 

Dit kan ook wys waar die reaksie van gemeenskappe, die polisie en ander instellings versterk moet word, sê Lizette Lancaster, ISS-programhoof.

Die twee organisasies wil uiteindelik onafhanklike navorsing en ervaring uit landelike gebiede bymekaarbring met een doel voor oë: veiliger gemeenskappe. Die klem val nie net op misdaadsyfers nie, maar op bruikbare inligting wat kan help om plaaslike optrede te verbeter en ’n sterker nasionale reaksie op landelike veiligheid te ondersteun.

OFM Agri cvs

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.