Agriculture
Lae voedselinflasie kan hou, maar 2027 bring nuwe risiko’s─── ISABEL VAN TONDER 11:44 Mon, 28 Sep 2026
Suid-Afrikaners behoort die res van die jaar steeds betreklik min druk van voedselprysinflasie te ervaar, maar die prentjie kan volgende jaar verander.
Voedselprysinflasie het in Augustus tot net 0,7% gestyg, van 0,6% in Julie, en bly naby die laagste vlakke sedert 2010. Wandile Sihlobo, Landbousakekamer-hoofekonoom, sê goeie plaaslike oeste van graan, oliesade, vrugte en groente help om pryse in belangrike dele van die kosmandjie laag te hou.
“Ons dink die tempo waarteen voedselpryse styg, sal vir die res van 2026 betreklik sag bly,” sê hy. Graanverwante produkte, vrugte en groente is in deflasie wat beteken verbruikers betaal in baie gevalle minder as verlede jaar. ’n Ruim produksieseisoen plaas steeds afwaartse druk op dié pryse.
Ook vleispryse styg stadiger as wat vroeër vanjaar gevrees is. Bek-en-klouseer (BKS) bly ’n belangrike risiko, maar slagaktiwiteit gaan volgens Sihlobo redelik voort en inentings vind landwyd plaas. Tydelike beperkings op uitvoermarkte tydens uitbrekings kan terselfdertyd meer vleis plaaslik beskikbaar stel en prysdruk beperk.

Wandile Sihlobo, Landbousakekamer-hoofekonoom. Foto: Agbiz/Facebook
“Wanneer ’n mens na vleispryse kyk, styg dit teen ’n baie stadiger tempo.” Hy meen dié ontwikkeling, saam met gunstige produksietoestande vir pluimvee, help om die breër voedselinflasiesyfer laag te hou ondanks die voortgesette uitdagings wat BKS vir die veebedryf skep.
Die groter kommer lê nou by aanstaande jaar. ’n Verwagte El Niño-droogte kan die komende somergewas raak wat vanaf middel Oktober geplant word en eers teen middel 2027 op die mark kom. Swakker produksie kan dan die gunstige prysomgewing verander wat verbruikers uit die groot 2025/26-oeste geniet.
Brandstof hou nog ’n risiko in. Die voortgesette oorlog in die Midde-Ooste kan olie- en brandstofpryse opstoot, terwyl meer as 80% van Suid-Afrika se landbou- en voedselprodukte per pad vervoer word. Enige volgehoue styging in vervoerkoste kan dus uiteindelik ook deurwerk na pryse op winkelrakke.
“Waar ons begin bekommerd raak, is 2027,” sê Sihlobo. Die verwagte droogte en moontlike styging in brandstofpryse is volgens hom die belangrikste faktore om dop te hou namate die nuwe produksieseisoen begin en die landboubedryf vanjaar se gunstige voedselprysomgewing probeer behou.
OFM Agri dg
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

