On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

South Africa

Seun van Zuma eindelik in getuiebank in moordverhoor

───   09:07 Thu, 19 Oct 2023

Seun van Zuma eindelik in getuiebank in moordverhoor | News Article
Foto: Verskaf

“Zuma was die meesterbrein van die rooftog. Hy het glo die nag van die voorval al om die misdaadtoneel gery en sy selfoon toon aktiwiteit met die ander beskuldigdes se selfone.”

Die verhoor waarin sewe beskuldigdes van die moord en aanval op Piet Els, sakeman en bekende in diamantkringe, in 2018 aangekla word, het vandeesweek weer in die hooggeregshof in Kimberley begin. Els se vriendin Rikkie Alsemgeest is ook aangeval.

Dit volg ná ‘n lang vertraging weens bewerings van dreigemente tussen die beskuldigdes. Een van die regsgeleerdes, wat drie beskuldigdes verteenwoordig het, het daarna aan die saak onttrek. Nuwe regsverteenwoordigers is intussen aangestel.

Jabulani Zuma, seun van oudpres. Jacob Zuma, het Woensdag met sy getuienis begin en beskryf hoe hy in Maart 2021 vroegoggend by sy plaas deur die polisie in hegtenis geneem is.

Die staat voer aan die beskuldigdes het uit drie groepe bestaan. Zuma, wat in Januarie 2018 van sy huis in KwaZulu-Natal na Mbombela in Mpumalanga gery het om vier medebeskuldigdes op te laai en na Kimberley te reis waar hulle na ene Amos Ralihlare se huis is. Drie ander Sesotho-sprekende mense het by hulle aangesluit.  

Die groep van Mpumalanga moes glo ‘n ritueel uitvoer. Van daar is vier mans op 24 Januarie 2018 na Els se plaas waar hy en Alsemgeest aangerand en van horlosies, Krugerrande en diamante beroof is. Els is in sy slaapkamer met 'n strykyster gemartel. Alsemgeest het oorleef. Els is 111 dae ná die aanval in die hospitaal aan sy beserings dood.

Die ander aangeklaagdes is Morapeli Rankali (28) en Motlalentwa Qhautse (37), van Lesotho, Lizbeth Ndlala (56) en haar man, Themba Lawrence Maja (68), Oupa Jeffrey Mahomane (44), almal van Pienaar in Mpumalanga, Samson Sam Mbokane (63) van Mbombela, en Zuma (62) van Mtubatuba.

Hulle staan tereg op aanklagte van onder meer huisbraak, aanranding, moord en twee aanklagte van die onwettige besit van ’n 7.65mm-Walther-pistool en ’n .30-30-Winchester-geweer.

Mbokane, wat voorheen beweer het hy is gedreig terwyl hy in die getuiebank was, het vroeër vandeesweek sy getuienis afgesluit. Hy het weer soos voorheen gekla hy is ongesteld. Volgens hom het hy, Ndlala en Maja net as tradisionele helers saamgegaan om “munte op te grawe”. 

Hy het onder kruisondervraging van adv. Hannes Cloete, die staatsaanklaer, ontken dat hulle die munte van iemand moes afneem. Hy het hom gedistansieer van sy polisieverklaring waarin hy gesê het Zuma het hom gebel en om hulp gevra om “Paul Kruger se geld” by iemand in Kimberley te kry en ‘n “spook uit die weg te ruim”.

Hy het erken dat hy R10 000 ná die voorval ontvang en bestee het, maar ontken dat hy weet dit was Els se geld. Die staat voer aan Mbokane het daardie nag nie geslaap soos hy beweer het nie, maar was telefonies in kontak met ander beskuldigdes wat hom oor die verloop van gebeure by die misdaadtoneel ingelig het.

Die staat beweer Zuma was die meesterbrein van die rooftog. Hy het glo die nag van die voorval al om die misdaadtoneel gery en sy selfoon toon aktiwiteit met die ander beskuldigdes se selfone. Hy het gehelp om later die buit by Ralihlare se huis te deel.

Zuma voer weer aan hy het daardie aand by Ralihlare se huis gebly en was nie bewus van die misdade nie.  Moetleetsi Mogwera lei Zuma se  getuienis voor regter Lawrence Lever. Die saak duur voort.

OFM Nuus/Charné Kemp

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.