On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

South Africa

Familie vrees ergste ná boer onder water verdwyn

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:18 Mon, 28 Sep 2026

Familie vrees ergste ná boer onder water verdwyn | News Article
Sagaria (Saag) Jonker. Foto verskaf

Die familie van ’n vermiste volstruisboer het vrede gemaak met die moontlikheid dat hy dalk nie meer leef nie, of dat sy liggaam nie gevind sal word nie.

Sagaria (Saag) Jonker (85), ’n Oudtshoornse volstruisboer, word vermis nadat hy Sondagmiddag (27/9) deur vloedwater meegesleur is. Hy het probeer om ’n laagwaterbrug oor die Olifantsrivier in die omgewing van Rooiheuwel, sowat 3km buite Oudtshoorn, oor te steek, sê Morné Jonker, sy seun, aan OFM Nuus.

Jonker het die oggend, soos hy dit al jare lank doen, sy gewone rondtes en inspeksies op die plase gedoen. Hy was omstreeks 12:50 op pad terug na sy huis in Oudtshoorn toe die voorval plaasgevind het. 

“Ondanks my pa se ouderdom was hy steeds baie aktief in die boerdery. Hy moes eintlik nie die laagwaterbrug aangedurf het nie.” Die Olifantsrivier is tans in volle vloed ná swaar reënval in die opvangsgebied suid van Beaufort-Wes. “Die vloedwater was baie hoog en die water het sy voertuig by die Rooiheuwel-brug meegesleur.” 

Die Jonker-familie is van links Hein, Darias, Saag, Hazel, Morné en Niël. Foto verskaf

Twee ooggetuies het volgens Morné gesien hoe die bruin Toyota Land Cruiser deur die water meegesleur word. Jonker is daarna onder die water ingesleep en niemand het hom sedertdien weer gesien nie.

’n Omvattende soekoperasie is kort daarna begin. ’n AMS-reddingshelikopter het die gebied vir ongeveer ’n uur vanuit die lug deursoek, terwyl hommeltuie ook gebruik is. Duikers, boere, vrywilligers en lede van die gemeenskap het intussen by die soektog aangesluit.

Die omstandighede waarin die soektog plaasvind, is egter uiters gevaarlik. “Die rivier is diep. En die rivier is wyd met al die riete,” sê Morné. “Die rivier kan op plekke tot vyf meter diep wees, terwyl die water teen ongeveer vier tot vyf meter per sekonde vloei.”

Teen Maandagmiddag het die watervlak by die brug egter reeds aansienlik gedaal. Volgens inligting wat aan OFM Nuus verskaf is, was die watervlak omstreeks 11:56 sowat 4 tot 5 duim, nadat dit sedert vroeg Maandagoggend met ongeveer 4 duim gedaal het. Duikers sou omstreeks 12:00 weer die rivier binnegaan sodra die watervlak verder gedaal het.

Die water is glo ook bruin, vuil en koud, en die sterk stroom maak dit moeilik vir soekspanne om die rivier deeglik te ondersoek. Die familie probeer intussen nie net om Jonker te vind nie, maar ook sy voertuig, wat saam met hom vermis word.

“Ons is maar nou in hierdie uitdaging om pa en sy voertuig nog te vind. ”Hy erken egter dat die familie hulself emosioneel begin voorberei op die moontlikheid dat Jonker nie gevind sal word nie. 

Die soektog duur voort. Foto verskaf

“Ons sit nou maar met ’n situasie waar ons half vrede gemaak het dat pa nie meer met ons is nie, maar dat ons die voertuig in die hande probeer kry.”

Die Jonker-familie spreek hul dank uit teenoor die nooddienste, duikers, helikopterbemanning, hommeltuigoperateurs, boere, vrywilligers en gemeenskapslede wat tot dusver by die soektog betrokke was.

Die familie vra die publiek en media moenie oor Jonker se lot bespiegel of onbevestigde inligting te versprei nie. Jonker is in 2000 deur die Landbouskrywersvereniging van Suid-Afrika as die land se boer van die jaar aangewys.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.