South Africa
Geloofskopies hou hoop vir baba lewend ná kanker, miskrame─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:47 Wed, 14 Oct 2026
Elke maand word daar iets kleins by ’n versameling baba-items gevoeg vir ’n kind wat nog nie in sy ouers se arms is nie, maar reeds ’n groot plek in hul harte het.
Vir Megan (28) en Stephan van der Watt (29) van Bethal in Mpumalanga hou die geloofsaankope hul droom lewend om ouers te word. Ná eierstokkanker, chemoterapie en vyf miskrame bly hulle hoop om eendag hul eie baba in hul arms vas te hou.
“Elke item het ’n spesiale betekenis, want dit is nie bloot iets wat ons gekoop het nie. Dit is iets wat ons met liefde en hoop vir ons toekomstige lyfie gekies het,” sê Megan.
Die egpaar is vyf jaar gelede getroud en droom al lank daarvan om hul eie gesin te begin. Hulle het mekaar op Standerton ontmoet, waar Stephan sy leerlingskap as elektrisiën voltooi het en Megan by dieselfde maatskappy begin werk het. Hulle het ná ’n jaar verloof geraak en is in 2021 getroud.

Megan en Stephan terwyl sy chemobehandeling kry. Foto verskaf
Moederskap was nog altyd ’n groot droom vir Megan. Van die begin van hul verhouding het hulle oor hul toekoms gepraat en saam besluit hulle wil graag vier kinders hê. Maar hul droom het ’n onverwagse wending geneem nog voordat hulle behoorlik hul lewe as pasgetroudes kon begin.
Net vier maande voor hul oorspronklike troudatum is sy met eierstokkanker gediagnoseer. Dokters wou haar regtereierstok verwyder en met chemoterapie begin. Die paartjie moes moeilike besluite neem oor haar behandeling en hul droom om eendag kinders te hê.
Hulle het besluit om ’n behandelingsroete te volg wat steeds die moontlikheid oop sou laat dat Megan self ’n baba kon dra. Die troue is vervroeg en alles het binne ’n kort tyd gebeur. Nadat Megan in April geopereer is, het hulle op 12 Junie getrou. Enkele dae later het sy ’n operasie ondergaan om ’n chemoterapiepoort te laat insit, en ’n week later het haar chemoterapie begin.

Die paartjie op hul troudag vyf jaar gelede. Foto verskaf
In Desember 2021 het sy haar laaste chemoterapiebehandeling ontvang en die nuus gekry waarop hulle so gehoop het: sy was kankervry. Hulle het daarna weer probeer om swanger te raak, maar die pad na ouerskap was nie maklik nie.
Megan het vyf miskrame gehad, en nie een van die swangerskappe het langer as ongeveer drie weke geduur nie. “Dit is ’n seer wat moeilik is om in woorde te beskryf. Elke keer verloor ons nie net ’n swangerskap nie, maar ook al die klein drome wat ons reeds begin droom het,” sê sy.
Die paartjie het aanvanklik gedink die probleem lê by Megan. Ná verskeie ondersoeke het hulle in Februarie uitgevind Stephan het ’n aangebore mediese toestand wat volgens hul dokters moontlik met die herhaalde miskrame verband hou.

Die egpaar verwerk die moeilik pad verskillend, maar ondersteun mekaar. Foto verskaf
Dokters het verduidelik in-vitro-bevrugting (IVF) kan hul beste opsie wees om ouers te word. “Dit was nog ’n moeilike terugslag. Hoewel ons steeds hoop om natuurlik swanger te raak, beplan ons om volgende jaar meer oor IVF uit te vind as ek nie intussen swanger raak nie,” sê Megan.
Dit is juis te midde van dié onsekerheid dat die geloofskopies ’n besondere betekenis in hul lewe gekry het. Megan het die idee gekry toe sy geskenke vir vriendinne se ooievaarstee gekoop het. Terwyl sy na oulike uitrustings en speelgoed gekyk het, het sy aan haar eie toekomstige baba gedink.
Sy het aanvanklik die goedjies weggesteek omdat sy bang was mense sou nie verstaan waarom sy reeds baba-items koop vir ’n kind wat nog nie gebore is nie. Toe sy uiteindelik vir Stephan daarvan vertel, het sy reaksie haar verras. Hy het dit nie as iets vreemds beskou nie, maar as ’n uitdrukking van hul geloof en vertroue terwyl hulle vir ’n baba bid.
'Tema vir toekomstige baba se kamer reeds gekies'
So het hul geloofsaankope ontstaan: Elke maand koop hulle ietsie vir hul toekomstige baba, of dit nou ’n uitrusting, speelding, kombersie of ander spesiale item is. Hul familie en vriende het ook van die idee te hore gekom en begin om goedjies vir die baba te koop.
Wat aanvanklik ’n stil, persoonlike gebruik was, het mettertyd ’n manier geword waarop hul geliefdes saam met hulle kan droom. Die paartjie het selfs reeds temas vir hul toekomstige seuntjie en dogtertjie se kamers gekies, Pinterest-borde vol idees geskep en name begin oorweeg.
Vir Megan gaan dit egter oor veel meer as die besittings wat in die kas opgehoop word. Sy verbeel haar hoe sy eendag haar baba in die klein uitrustings sal aantrek, hoe die speelgoed gebruik sal word en hoe sy die stories agter elke stuk sal vertel.

Dié geskenk van Megan se man het een van haar kosbaarste geloofkopies geword. Foto verskaf
“Ek wil hê hulle moet eendag weet ek het nie eers begin om hulle lief te hê toe hulle in my arms was nie,” sê sy. Van die items in hul versameling hou herinneringe in aan die moeilike tye waardeur Megan moes gaan. Een daarvan is ’n pers eenhoring wat Stephan ná haar kankeroperasie vir haar gekoop het.
Dit het later deel geword van die tema vir hul toekomstige dogtertjie se kamer, wat hulle as ’n towerwoud met sagte kleure en feetjies voorstel. ’n Grys wolkombersie wat Megan tydens chemoterapie van ’n vriendin ontvang het, is aangeskaf in die hoop dat dit eendag haar baba warm sal hou, lank nadat die moeilike dae verby is.
’n Blou teddie wat sy op haar laaste dag van chemoterapie by ’n verpleegster gekry het nadat sy gehoor het sy is kankervry, herinner haar aan die hoop om eendag haar eie kinders te hê. Sy droom daarvan om hul name op die teddie te laat aanbring en dit vir die verpleegster te wys as teken van hoe ver sy gekom het.
Die geloofskopies bring egter nie altyd net vreugde nie. Ná haar derde miskraam het Megan vir byna ’n jaar deur ’n donker tyd gegaan. Sy was kwaad, hartseer en teleurgesteld en het selfs gevoel dat sy nie meer kinders wou hê nie, omdat dit te seer was om aan te hou hoop en dit dan weer te verloor. Sy het ook vir ’n ruk opgehou om met God te praat.

'n Grys wolkombersie wat Megan van ’n vriendin ontvang het. Foto verskaf
Mettertyd het sy weer haar geloof gevind. Sy het besef sy hoef nie al die antwoorde te hê om steeds te kan hoop nie. “Ek het besef dat ek nie alles hoef te verstaan om steeds geloof te hê nie. Ek hoef nie te weet wanneer of hoe ons droom gaan waar word om vandag reeds met liefde daarvoor plek te maak nie,” sê sy.
Deur die moeilike dae probeer Megan en Stephan mekaar ondersteun. Soms koop Stephan ietsie vir hul toekomstige baba om Megan aan hul gedeelde droom te herinner. Ander dae huil hulle saam, hou net mekaar se hande vas of gee mekaar tyd om asem te skep.
Hulle weet dat hulle nie altyd op dieselfde manier hul hartseer verwerk nie, maar probeer eerlik wees oor hoe hulle voel en mekaar die ruimte gee om moeilike dae op hul eie manier te hanteer.
Megan het ook haar TikTok-blad begin om hul verhaal te deel en ander paartjies te laat weet hulle is nie alleen nie. Sy hoop mense sal verstaan dat ’n glimlag nie altyd wys waardeur iemand gaan nie en dat mense wat met onvrugbaarheid en miskrame worstel, nie noodwendig raad of oplossings nodig het nie.

“Soms wil ons bloot hê iemand moet luister.” Foto verskaf
Soms wil hulle bloot hê iemand moet luister. Sy wil ook hê mense moet weet ’n mens kan dankbaar wees vir wat jy het en steeds diep kan verlang na dit wat jy nog nie het nie.
“Jy kan hoopvol wees en steeds bang wees. Jy kan sterk wees en steeds breek. Al hierdie gevoelens kan gelyk bestaan,” sê sy. Hoewel Megan en Stephan nie weet wanneer hul droom om ouers te word waar sal word nie, hou hulle steeds vas aan die moontlikheid.

Megan en Stephan glo vas hulle sal eendag hul eie baba vashou. Foto verskaf
As hul pad uiteindelik anders uitdraai, oorweeg hulle dit om die baba-items aan iemand te skenk wat dit nodig het; dalk ’n mamma wat lank gewag het of nie alles vir haar baba kan bekostig nie.
Vir nou hou hulle vas aan hul droom om ouers te word. Megan sien uit na die dag wanneer sy haar eie baba in haar arms kan hou, hom of haar in een van die klein uitrustings kan aantrek, en die stories agter elke item kan vertel. Tot dan bly die babagoedjies ’n teken van die liefde en hoop waarmee hulle reeds vir hul wonderwerkie wag.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvdw
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.
