Agri Hour
Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher?─── CHRISTAL-LIZE MULLER 02:09 Thu, 13 Feb 2020

Soos oudergewoonte op ‘n Donderdag praat OFM-nuus se Christal-Lize Muller met die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher…
Hy sê daar is nou meer fokus op peulgewasse om voedselsekuriteit te bevorder met die Internasionale Peulgewas-dag wat Maandag gevier is. Peulvrugte - die eetbare sade van peulplante, soos lensies, kekerertjies ens., bevat aansienlike hoeveelhede mikrovoedingstowwe, dieëtvesel en minerale. Dit is 'n belangrike bron van plantproteïen. Volgens hom is dié vrugte eenjarige peulgewasse wat gekweek word vir gedroogde sade. Peulvrugte word beskou as een van die gewasse wat 'n belangrike rol speel om honger te verlig in die strewe na toekomstige wêreldwye voedselsekerheid wat tot gebalanseerde en gesonde diëte bydra.
Hy verduidelik 'n peulvrug is 'n eenvoudige droë vrug wat ontwikkel uit 'n eenvoudige vrugblaar en gewoonlik oopspring (oopbars langs 'n naat) op twee kante. 'n Algemene naam vir hierdie tipe vrug is 'n peuldop, hoewel die term "dop" ook van toepassing is op ander tipes vrugte, soos dié van vanielje ('n kapsule) en van radyse ('n saadpeul).
In die landbou word peulgewasse hoofsaaklik vir hul graan saad aangeplant, genaamd peulvrugte, wat gebruik word vir veevoer en kuilvoer, en word as groen bemesting gebruik om landbougrond op te bou. Bekende peulplante sluit in lusern, klawer, ertjies, bone, lensies, wolfsboontjies, mesquiteboontjies, karob, sojabone, grondbone en tamaryn. Die term "peulvrug", soos gebruik deur die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-Organisasie (FAO), word verder voorbehou vir gewasse wat uitsluitlik vir die droë saad verbou word. Dit sluit groenbone en groen ertjies uit, wat beskou word as groentegewasse. Ook uitgesluit is saad wat hoofsaaklik gekweek word om olie te onttrek (oliesade soos sojabone en grondbone), asook die sade wat uitsluitlik gebruik word vir veevoer (klawer, lusern). Vir algemene gebruik word hierdie onderskeidings nie altyd duidelik gemaak nie en baie van die soorte wat gebruik word vir gedroogde peulgroente, word ook gebruik vir groen groente, terwyl dit jonk is en met die bone nog in die peule.
Peulgewasse is 'n belangrike bron van proteïen, dieetvesel, koolhidrate en minerale. 'n 100-gram-porsie van gaargemaakte kekerertjies bevat 18% van die daaglikse waarde vir proteïen, 30% vir dieetvesel, 43% vir folaat en 52% vir mangaan. Soos ander plantgebaseerde voedsel, bevat peulgewasse min vet of kalorieë en geen cholesterol. Dié gewasse is ook 'n uitstekende bron van weerstandige stysel wat afgebreek word deur bakterieë in die dikderm om kortkettingvetsure te vervaardig wat deur die dermselle gebruik word vir voedingsenergie.
Sien onderstaande PODCAST
Dit was die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher, wat met OFM-nuus se Christal-Lize Muller gepraat het.
OFM-nuus