On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agri Hour

Landbou-ontwikkelingsagentskap wil kleinboere ondersteun

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 08:33 Wed, 19 Feb 2020

Landbou-ontwikkelingsagentskap wil kleinboere ondersteun | News Article
Roelf Meyer FOTO: OFM-nuus

Die Landbou-ontwikkelingsagentskap, oftewel AGDA, se hoofdoel is om die getal boere in Suid-Afrika te vermeerder.


Dit sluit in om aan nuwe en opkomende boere die geleentheid te bied om tot kommersiële produksie toe te tree. Die voorsitter van die "In Transformation Initiative", Roelf Meyer - 'n dryfveer van dié agentskap - sê dit het ten doel om befondsing en kundigheid aan kleinboere te verleen. Volgens hom wil dié agentskap 'n raamwerk skep om dié boere te ondersteun. Hy sê dit sluit nie bestaansboere in nie. Die hoofdoel is om kleinboere te ondersteun om suksesvol en volhoubaar op 'n kommersiële grondslag te boer, want daar is reeds gevestigde kommersiële boere. 

OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Meyer gepraat...


Sien onderstaande PODCAST


'n Uitdaging vir opkomende boere is finansiering en die beskikbaarheid van geld, en die agentskap het 'n pertinente rol om te speel om sodoende befondsing te kry wat op 'n "gemengde grondslag" beskikbaar is, sê Meyer. Bestaande kommersiële koerse wat beskikbaar is by banke is in dié verband nie voldoende nie, want dit kortwiek baie voornemende boere om tot dié bedryf toe te tree. Meyer meen "gemengde koerse" kan bewerkstellig word deurdat befondsing vermeng word met normale kommersiële koerse. Dit kan gedoen word deur korporatiewe maatskaplike investering (CSI).

Meyer sê AGDA gaan begin met sowat tien projekte as 'n vertrekpunt in verskillende gebiede in die land. Dié projekte is daarop gemik om kommersiële boere te help om by kleinboere aan te sluit sodat 'n netwerk geskep en uitgebrei kan word na ander projekte. Nog 'n aspek waarop dié agentskap fokus, is die gebruik van myngrond en daar is reeds samewerking van verskeie mynmaatskappye. 

Sogenaamde staatsplase, wat reeds deur die staat aangekoop is, gaan beskikbaar gestel word en aan die reghebbende eienaars van die grond verskaf word sodat hulle daarop kan begin boer, veral op 'n kommersiële grondslag. 

Grond wat aan staatsdepartemente behoort, wat geensins benut word of onderbenut is, gaan aangewend word vir kommersiële boerdery doeleindes.

Dit was Roelf Meyer voorsitter van die "In Transformation Initiative", 'n dryfveer van die Landbou-ontwikkelingsagenskap, oftewel AGDA.


OFM-nuus


Podcasts

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.