On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Agri Hour

Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher?

───   05:00 Thu, 17 Dec 2020

Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher? | News Article
Foto: www.thecoregroup.co.za

Soos oudergewoonte op ‘n Donderdag, praat OFM-nuus se Elsabé Richard met die landbou-ekonoom, dr. Kobus Laubscher.

Hier is Laubscher…


Sien onderstaande PODCAST


In die laaste insetsel van 2020, fokus Laubscher op waarmee 2021 kan afskop om ‘n verskil te maak.

“As kind het ons ná ‘n hewige reënbui by sogenaamde maalgate gaan swem.  Ons was onverantwoordelik deur in die malende water in te duik, rondomtalie gegooi te word en op die anderkantse wal uitgespoel te word. As mens nou daaraan dink, sidder jy oor die risiko’s waaraan dié aksies ons blootgestel het – drywende stompe onder die water, ens.

“Ons beskermengele het oortyd gewerk. So was 2020 met die pandemie. Baie het ingeduik, ander het op die wal gewag, maar nie een het eintlik die aller antwoord gehad nie en nou maak die land en lande reg vir ‘n volgende golf van infeksie… Waaroor deskundiges egter eens is, is dat die pandemie met ons gaan wees vir ‘n onbeplande tyd. Inenting sal verspreiding en sterfte anders stuur as tot nou. Wat egter nog steeds aandag vra, is hoe om die baie mense blywend kos te gee.  Bevolkingsaanwas stu voort.

“Een van die sogenaamde millennium doelwitte van die FAO hou egter water ten spyte van die verwringende impak van die pandemie. Dié doelwit handel met volhoubare verbruik en produksie. Volhoubare verbruik en produksie het in wese te doen met die bevordering van hulpbron en energie doeltreffendheid, volhoubare infrastruktuur en toegang tot basiese dienste, sogenaamde groen werkgeleenthede en in die geheel ‘n beter lewe vir almal.

“Sulke strewes vind neerslag in ontwikkeling en wel op so ‘n manier dat toekomstige ekonomiese, sosiale en omgewingskoste verminder kan word of ten beste die progressiewe styging beperk kan word… As sodanig is dit ‘n verwagting dat mededingendheid sal verbeter en armoede verlig word, maar teen ‘n agtergrond wat redelik deurmekaar is in terme van komplementariteit.  Verstedeliking is ‘n gegewe en na verwagting sal twee derdes van die wêreld se bevolking teen 2050 in stede woon.  Hierdie stede verbruik 75% van die bestaande natuurlike hulpbronne en produseer meer as die helfte van alle afval, en dra na verwagting tussen 60% en 80% by tot skadelike kweekhuis gasse, aldus die FAO. 

“Daarmee saam is daar enorme verskuiwings by die vraag na en die verbruik van goedere en dienste onder ‘n groeiende middelklas. Een van die vernaamste veranderings is die verhoogde vraag na proteïen vs die klassieke oorwig van verbruik van koolhidrate.  Hierdie verandering het onder andere ‘n reuse impak op die gebruik van plastiek, ens. Die antwoord lê onder andere opgesluit in die bevordering van ‘n meer sirkulêre ekonomie waar minder vermors word deur hergebruik. Herwinning groei vinnig, maar is nog nie in lyn met die spoed waarteen onherwinbare items bydra tot besoedeling nie.  Die anderse bestuur van hierdie dilemma is al hoe meer sigbaar.

“Tegnologie om groen energie tot ‘n groter mate in te span word wet met of sonder ondersteuning van die staat om sulke skuiwe te komplimenteer. As mens die volle impak van wat in waardekettings gebeur in terme van energie benutting, die tipe verpakkingsmateriaal wat aangewend word, ens., is daar ‘n sterk saak uit te maak ten gunste van die groter verbruik van plaaslike aanbod. Deur die lewe van duursame produkte te verleng, kan die vraag na die materiale wat daarvoor benodig word, verminder word.

“Diegene wie meer hieroor wil weet, kan gerus hulle soekenjins inspan, want die onderliggende debatte is stimulerend en kan meer van ons aanspoor om ‘n bydrae te probeer maak ter ondersteuning van ‘n beter lewe.

“Die vraag is of daar lesse te leer is uit ons ervaring met Covid-19 tot datum. Die eenvoudigste les is dat almal van ons verplig was om wat ons het en wat daarmee gedoen kan word, noodwendig moes herwaardeer gedurende die grendeltyd. 

“Daardie ingesteldheid moet deel bly van ons lewe.  Ons sal eenvoudig seker moet maak dat ons nie ‘n spoor laat van besoedeling, onvolhoubare verbruikspatrone deur vermorsing, ensovoorts nie. Die vervanging van duursame goedere moet met meer ewewig oorweeg word en ons kan probeer om weg te stuur van die tegnologie slagyster om altyd die nuutste te wil bekom. Die gebruik van hulpbronne verdien groter respek en daarmee kan ons afskop in 2021.

“Namens my en my gesin wens ons aan elkeen ‘n vervulde Kersfees en dat ons almal gespaar sal terugkom met voorneme om die lewe hier vir almal beter te maak,” sluit Laubscher af.



OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.