On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agri Hour

Deel 1: Aalwurms - wat dit is en hoe om dit te identifiseer

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Mon, 08 Mar 2021

Deel 1: Aalwurms - wat dit is en hoe om dit te identifiseer | News Article
Foto: grainsa.co,za

Die gewasse wat boere in Suid-Afrika plant, is vatbaar vir die twee grootse aalwurm peste in graangebiede, naamlik knopwortel- en letselaalwurms.

'n Kenner van aalwurms, Prof. Driekie Fourie, wat verbonde aan die Noordwes-Universiteit is, sê dit is moeilik om van hierdie parasiet ontslae te raak. 

Sien onderstaande PODCAST

Wat is aalwurms?

Fourie verduidelik dat aalwurms mikroskopiese klein organismes is wat op mense, diere en plante parasiteer – en kan dus nie met die blote oog gesien word nie.

Sy deel dat aalwurms deur musktiete oorgedra word, veral in tropiese gebiede en kan by mense swelling veroorsaak omdat die parasiet deur die limfstelsel vasgevang word en dit veroorsaak dan ‘n ‘blokkasie’. Sy verduidelik dat dit onomkeerbaar is.


Watter behandeling is beskikbaar vir aalwurm-besmetting onder mense?

Fourie sê daar is medikasie beskikbaar wat, voordat besmetting plaasvind, geneem kan word.


Hoe kan boere aalwurmbesmetting identifiseer in plante en landerye?

“Daar is nie altyd sigbaar bogrondse simptome waar boere duidelik kan sien daar is ‘n probleem in hulle lande nie, maar as daar swak kolle in die lande is - byvoorbeeld waar die plante nie goed groei nie – verdwergde of vergeelde plante of selfs plante wat doodgaan – dan moet hulle weet daar is ‘n probleem.

“Aalwurms is klein organismes, so hulle kan nie ver beweeg nie. Hulle maak kolle in die land. Indien dit ‘n knopwortel-aalwurm probleem is, moet die boer die wortels uittrek en daarna kyk. Op die wortel sal hy dan knoppe sien as dit ‘n knopwortel-aalwurm probleem is, of as dit byvoorbeeld ‘n letsel-aalwurm probleem is, dan kan die wortels donker verkleur wees. Daar is [egter] ander siektes wat ook daardie simptome het, so dis moeilik,” verduidelik Fourie.

Sy raai boere aan dat sodra hulle hierdie simptome opmerk, om eerder met ‘n nematoloog in kontak te tree en onder meer die plantwortels, aartappelknolle of grondboontjie-peule met die omringende grond vir ontleding in te stuur.


Kan 'n mens van aalwurms ontslae raak?

“Dit is verskriklik moeilik om van aalwurms ontslae te raak. Jy kan nooit aalwurms heeltemal uitwis nie, maar boere kan van aalwurmdoders gebruik maak. Tans is daar twee saadbehandelings op mielies geregistreer as aalwurmdoders, en dit kan help om die aalwurm-bevolkings te verlaag in die lande.

“Dan is daar ook tans ‘n nuwe generasie korrelvorm-aalwurmdoder op mielies geregistreer wat beskibaar is; en dan is daar die ou generasie chemiese middels wat ook nog beskikbaar is vir gebruik en wat baie keer in kombinasie met, byvoorbeeld, ‘n saadbehandeling gebruik word.

“Maar die huidige graangewasstelsels is baie voordelig vir die opbou van aalwurmbevolkings. Die gewasse wat ons boere plant, is baie vatbaar vir die twee grootse aalwurmpeste waarmee ons sukkel in Suid-Afrika in graangebiede, naamlik knopwortel- en letselaalwurms,” voeg Fourie by.

Sy sê boere moet daarna kyk of hulle ‘n dekgewas of gras ook kan insluit op hulle lande waar hulle aalwurm probleme het. Fourie sê veral boere wat veekomponente in hulle boerdery het, kan die bogenoemde probeer.


Watter gebiede in Suid-Afrika het die afgelope jaar aalwurmbesmettings aangeteken?

Fourie veduidelik dat, met verwysing na grondgewasse, is dit gewoonlik die gebiede waar sandgronde oorheers. Sandgronde word gewoonlik die swaarste getref want aalwurms plant net optimaal voort in hierdie tipe grond omdat daar genoeg suurstof en water is.

Sy sê egter boere moet ook kennis neem dat kleigrond ook die opbou van plant- parasitiese aalwurms ondersteun, wat ook skade oor ‘n langer tydperk veroorsaak.

Fourie sluit af deur te sê dat hulle na ‘n opname van graanproduksiegebiede in die Noordwes, Vrystaat en die hoëveld van Mpumalanga geweldige hoë aalwurm-bevolkingsvlakke gevind.

Skakel in op die Agri-Uur op Dinsdag 9 Maart tussen 05:00 en 06:00 vir die nadele van aalwurm-besmetting sowel as maatreëls wat boere kan volg om hierdie aalwurms hok te slaan.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.