Agri Hour
Dieseltekort knou landboubedryf en ander─── 08:27 Wed, 24 Jun 2020
Die tekort aan dieselvoorraad in die sentrale binneland knou nie slegs boere in Noordwes nie, maar delwers en ander bedrywe word ook daardeur geraak.
Hugo Viljoen, 'n saai- en veeboer wat ook delf, sê boere en delwers in die Schweizer-Reneke gebied in Noordwes kan nie voortgaan met hul onderskeie bedrywighede nie. Viljoen het reeds sy dieselreserwes uitgeput. Hy het aan OFM-nuus se bestuurder van nuus, Cathy Dlodlo, gesê die laaste twee tot drie weke sukkel mense in verskeie bedrywe in dié distrik om produktief te wees, te midde van die tekort aan dieselvoorraad.
Sien onderstaande PODCAST
Hy sê die dieseltekort in Noordwes is 'n reuse-probleem, veral in die Schweizer-Reneke-distrik. Daar is talle boere wat diesel gebruik. Daarmee saam is daar ook delwers wat staatmaak op diesel om met hul bedrywighede voort te kan gaan. Boere stroop nou hul somergraangewasse. Viljoen sê hy het Dinsdagoggend 'n doodloopstraat bereik ten opsigte van sy dieselvoorraad. Viljoen kan nie meer aangaan met sy werksaamhede nie. Daar is nie diesel beskikbaar in die hele Noordwes nie. Hy sê daar is vragmotors wat na Mosselbaai reis om dieselvoorraad te bekom teen 'n hoë prys. "Ons betaal nou meer as wat ons hoef te betaal," sê hy.
Dit is 'n reuse-probleem en bedrywe kom nou tot stilstand weens dié tekorte.
Daarmee saam sê Viljoen tydens die nasionale inperking weens die Covid-19-pandemie, het boere gesukkel om onderdele vir hul werktuie in die hande te kry. Die stroopproses is daarom nou 'n uitdaging weens dié onderdele wat nie vrylik beskikbaar is nie. Hy sê egter boere maak planne en kan in 'n mate voortgaan met hul bedrywighede, maar die tekort aan diesel is nou 'n groot probleem en hou boere terug.
"Ons sukkel om voor te kom, mense ry met dieselwaens heen-en-weer." Boere kan daarom nie voortgaan om te stroop nie. Hy sê die probleem moet nou spoedig uitgesorteer word.
OFM-nuus
