Central SA
GKSA, NWU se paaie skei ná 150 jaar─── 19:58 Sat, 04 Feb 2023

Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) beplan om weer self sy teologiese studente op te lei. Vir dié doel gaan die kerk 'n eie privaat hoëronderwysinstelling, die Gereformeerde Teologiese Akademie, oprig.
Sinode 2023 het Saterdag in Potchefstroom besluit om nie met die Noordwes-Universiteit (NWU) oor ’n nuwe ooreenkoms te onderhandel nie. Dit is die einde van ’n meer as 150 jaar lange verbintenis tussen die GKSA en een van die NWU se voorgangers. Dié universiteit is in 2004 gestig uit onder meer die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, wat ontstaan het uit die Teologiese Skool Potchefstroom, gestig in 1869.
Lidmate reageer meestal positief
Lidmate en predikante van die GKSA, wat in die volksmond as die Dopperkerk bekendstaan, het oor die algemeen goed op dié besluit gereageer, maar ook met hartseer oor wat van “hul” universiteit geword het. “Baie wyse en dapper besluit in belang van die Koninkryk en die suiwer verkondiging van die Woord,” skryf Düring Cornelius op Facebook. Terwyl Antonie van Tonder meen: “Die Kerk kan haarself nooit laat voorskryf deur enige instansie in die wêreld nie. Dis die Heilige Gees wat lei!”
Talle is wel teleurgesteld. “Dit is die hartseerste dag ooit. Die GKSA en PUK was verweef, met die universiteit wat gegroei het uit die teologiese skool,” skryf Marelize Coetzee, maar voeg by: “Dankie GKSA, dat julle staan by ons Christelike Gereformeerde beginsels.” Corlia Heystek skryf: “Dit is baie jammer, maar ongelukkig in lyn met die roete wat die universiteit volg die laaste klompie jare. Ek dink baie oud-Pukke voel die pyn diep.”
Sommige voel ook gekrenk oor skimpe op die NWU. “Om te sê die NWU het gesteel en is korrup is hartseer. Baie van ons Doppers werk vir die NWU. Die bestuur van die NWU en in besonder die finansiële bestuur van die NWU is op ’n gesonde basis en goeie dissipline word gehandhaaf,” skryf Frikkie Venter.
‘Opwindend om saam te bou aan ’n nuwe toekoms‘
Hannes Noëth, gewese predikant en nou direkteur van Solidariteit se Helpende Hand-beweging, sê by navraag aan OFM die besluit om nie aan die NWU se vereistes vir verdere samewerking te voldoen nie, “moet natuurlik verwelkom word. Dis ’n positiewe besluit, dis ’n kragtige besluit, dis ’n toekomsbesluit. Dit getuig van krag en energie, want daarmee sê ’n mens dat die opleiding onafhanklik kan staan, dat ’n mens vorentoe kan dink.”
Hy sê daar is baie praktiese vrae wat in die volgende drie jaar een-een beantwoord moet word, oor personeel, oor geboue, oor die bestuur van ooreenkomste wat baie dekades voortduur en wat sal voortbestaan of nie. “Ek dink ’n mens moet die mense vertrou wat daarmee werk, dat hulle in belang van die kerk sal optree.”
Hy gee toe “dis natuurlik altyd baie tragies as ’n mens ’n geskiedenis agterlaat, maar dis ook opwindend om saam te bou aan ’n nuwe toekoms, ter wille van dit waarvoor nogal altyd gestaan is: kragtige, suiwer getuienis”.
NWU se voorwaardes onaanvaarbaar
Die GKSA sê die kerk het op Sinode 2018 verskeie opdragte aan die kuratore insake teologiese opleiding gegee, onder meer om voort te gaan met onderhandelinge met die NWU oor die opleiding van sy studente in die teologie.
Dit was nadat regulatoriese en wetswysigings meegebring het dat die NWU ’n nuwe ooreenkoms daar wou stel. Die kuratore het verskeie konsepte aan die NWU voorgehou, maar die twee partye kon nie tot ’n vergelyk kom.
“Die nuwe ooreenkoms waarop die NWU wou skik,” het die kerk ná Saterdag se sinode gesê, “sou onder meer inhou dat die inhoud van die leerplan vir teologiese opleiding geheel in die hande van die NWU sou val. Voorts sou die teologiese professore se tyd aan die NWU behoort en slegs met vergunning by die GKSA aangewend kon word.
“Teologiese studente sou ook nie noodwendig onderrig ontvang deur Gereformeerde professore of dosente nie aangesien die GKSA geen inspraak sou hê in die aanstelling van professore soos ooreengekom in die huidige ooreenkoms nie.”
Volgens die sinode strook dié voorwaardes nie met die Skriftuurlike benadering tot teologiese opleiding wat die grondslag vorm van die Gereformeerde Kerke se predikante nie.
Gereformeerde Teologiese Akademie neem opleiding oor
Die NWU het skriftelik kennis gegee dat indien die GKSA nie die nuwe ooreenkoms staande die pas afgelope Sinode 2023 onderteken nie, die NWU van voorneme was om die bestaande ooreenkoms van 2006 op te sê. Die GKSA het besluit om nie die voorgestelde ooreenkoms te onderteken nie en het kennis geneem van die NWU se voorneme.
Die praktiese gevolge van hierdie besluit is dat die bestaande ooreenkoms met die NWU oor drie jaar tot ’n einde sal kom. Teen daardie tyd moet ’n alternatiewe wyse van opleiding in plek wees. Daarom het die GKSA besluit om ’n privaat hoër onderwys instelling op te rig en volgens wetgewing te registreer waar studente geakkrediteerde teologiese opleiding kan ontvang, die Gereformeerde Teologiese Akademie.
Die Sinode het die vertroue uitgespreek dat, soos dit sowat 150 jaar gelede was toe die Teologiese Skool op Burgersdorp in die Noordoos-Kaap gestig is, “die seënende Hand van die Here ook oor hierdie werk sal wees”.