Central SA
Skoonheid van Delareyville wil liefde vir boerdery deel─── ELSABÉ DE JAGER 07:46 Wed, 21 Feb 2024
"Glo dit of jy wil of nie, dit is daar op die plaasgrond van Delareyville waar my nuwe droom bewaarheid is."
“Ek het altyd geweet ek wil méér met my lewe doen; vandaar die tyd wat ek gaan deurbring het in wildreservate in ons eie land sowel as elders in Afrika.”
Vir Michelle du Plessis (41), onlangs aangewys as een van vanjaar se semifinaliste in die Mev. Suid-Afrika-kompetisie, draai die wêreld dikwels te stadig. Dié hoenderboer van Delareyville in Noordwes vind altyd iets méér vir haar hande om te doen.
Ná haar studentejare op Potchefstroom bring sy ’n paar jaar in wildreservate deur waar sy onder meer navorsing op luiperds doen. Ná dié avontuur werk sy vyf jaar op passasierskepe as skoonheidstegnoloog. “Daarna het ek nog vyf jaar in Dubai gewerk en toe na Australië geëmigreer.”

Die kameraadskap en leiding wat sy as semifinalis beleef, is vir Michelle du Plessis ’n riem onder die hart. Foto verskaf
“Ná al die glitz en glam beland ek in 2020 op ’n plaas naby Delareyville – dit alles danksy die man van my drome,” lag sy. Dié droomman, wat verkies om op die agtergrond te bly, is ’n veeboer, wat ook met gewasse soos mielies, sonneblomme en sojabone boer. “O ja, en dan het ons ook ’n wildplaas,” sê sy, wat altyd plek maak vir nog méér, sommer so terloops.
“Glo dit of jy wil of nie, dit is daar op die plaasgrond van Delareyville waar my nuwe droom bewaarheid is. Ek, die skoonheidsterapeut wat al 172 lande besoek het, het nét daar besluit om met skrophoenders te begin boer!”
Kort voor lank het dié nuwe boer besef ’n mens kry veel meer hoenderrasse as net skrophoenders. Sy het by baie boeregroepe ingeskakel om haar kennis te verbreed en haar hoenders by ’n klub begin skou.

Michelle du Plessis het haar boerdery in 2020 met vyf skrophoenders begin. Foto verskaf
Sy pak die pad na die Mev. SA-kroon aan met dieselfde geesdrif en geloof as wat sy alles sedert haar kinderjare aangryp. “My jongmeisiedrome het hierdie laaste tyd alles begin waar word.
“Ek het geleer dat ek myself moet liefhê. Dis wanneer selftevredenheid inskop dat mens berge kan begin versit.”
’n Groot vreugde is dat sy tydens hierdie kompetisie vir elke boerderygemeenskap, nie net dié van Noordwes nie, kan opstaan. “Ja, my skoene het dalk hoë hakke, ek dra dalk ’n blink kroon op my kop en my rok sal asemrowend wees, maar in my hart bly ek ’n boer wat élke boer in ons land verteenwoordig wanneer ek oor my liefde vir die veld en diere praat.”

Sy moedig alle vroue aan om hul eie deure oop te maak en hul kleintyddrome waar te maak. Foto verskaf
Delareyville se eerste Mev. SA-semifinalis se boodskap aan elke vrou is klinkklaar toe ons groet: “Ek wil vroue van die minderbevoorregte gemeenskappe in ons land onderrig in die kuns van veral hoender- en groenteboerdery.
“Ek wil hulle losmaak van die hoë werkloosheidsyfer in ons land. Ek wil élke vrou van Suid-Afrika inspireer om haar eie deure in die lewe oop te maak, om moed aan die dag te lê en altyd deur te druk.”
OFM Nuus/Elsabé de Jager dg
