On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
NEXT: 20:00 - 23:59 Saturday Nights with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Sakpas-wenke om snoesig te bly én geld te spaar dié winter

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:24 Sat, 24 May 2025

Sakpas-wenke om snoesig te bly én geld te spaar dié winter | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

Dis winter – en dit beteken hoër elektrisiteitsverbruik. Soos die winterkoue intree, is dit net natuurlik dat ons begin gryp na verwarmers, elektriese komberse en langer warm storte.

Geisers bly langer aan en baie van ons maak staat op inpropverwarmers of ondervloerse verhitting om die koue weg te hou. Ons vul die gemak aan met elektriese warmwaterbottels en hou soms selfs die ketel meer as gewoonlik aan die kook.

Gebruik kamerverwarmers waar jy die meeste tyd spandeer. Foto: iStock

Hier is agt praktiese wenke van Bennet Read om jou te help om hierdie winter elektrisiteit te bespaar:

  1. Verstaan jou energieverbruik: Om jou huis se energieverbruik effektief te bestuur, is dit belangrik om te weet watter toestelle die meeste elektrisiteit verbruik – en watter nie. ’n Eenvoudige reël: gebruik die kleinste toestel wat die werk kan doen (byvoorbeeld, kook water in ’n ketel in plaas van op die stoof). Gee spesiale aandag aan toestelle wat vir lang tye loop, veral hoë-energie toestelle soos verwarmers.
  2. Trek lae aan: Dra warmer klere binnenshuis pleks van om die verwarmer se knoppie te draai. Wikkel jou toe in ’n lekker snoesige trui en ’n paar wollerige pantoffels en jy sal in ’n kits opwarm. Boonop kos dit jou nie ’n sent ekstra nie!
  3. Stel jou geiser se temperatuur: Verlaag jou geiser se termostaat tot 55–60°C. Dit is warm genoeg vir gemak, maar mors nie oortollige energie nie. Hou storte korter as vyf minute. Dit bespaar water en verminder die energie wat nodig is om jou geiser aan die gang te hou.
  4. Gebruik eerder ’n elektriese kombers as ’n verwarmer: Elektriese komberse is meer energie-doeltreffend as kamerverwarmers, veral in die slaapkamer. In plaas daarvan om energie te mors deur die hele kamer te verhit, verhit ’n elektriese kombers net die bed, waar jy eintlik die hitte nodig het. Vir ’n nog eenvoudiger oplossing, probeer om ’n warmwaterbottel 30 minute voor slaaptyd in jou bed te plaas en ’n ekstra kombers by te voeg. En as jy ’n kaggel het, kan ’n klein vuurtjie ’n knus alternatief wees vir die gebruik van ’n verwarmer.
  5. Gebruik kamerverwarmers waar jy die meeste tyd spandeer: Om elektrisiteit te bespaar wanneer jy ’n kamerverwarmer gebruik, hou deure en vensters toe om die hitte vas te vang. Gebruik ’n tydskakelaar of termostaat om oorverhitting te voorkom en energievermorsing te verminder. Plaas die verwarmer in die area wat jy die meeste gebruik om die ruimte doeltreffend te verwarm sonder om die hele kamer te oorverhit, berig Efficiency Vermont.
  6. Kook slegs wat jy nodig het: Of dit nou vir koffie of ’n warmwaterbottel is, kook slegs die hoeveelheid water wat jy eintlik in die ketel nodig het. Gooi kookwater in ’n warmfles vir latere gebruik. Eet dadelik sodra kos gaar is, omdat kos baie vinnig koud raak in die winter. Moenie krag vermors deur kos te laat staan sodat dit later weer verhit moet word nie.
  7. Doeltreffende gloeilampe: Gedurende die koue en donker wintermaande bly ligte langer en meer gereeld aan. Daarom is dit ’n slim skuif om oor te skakel na energie-doeltreffende gloeilampe – hulle gebruik tot 80% minder elektrisiteit as tradisionele gloeilampe. En energie bespaar beteken nie dat helderheid opgeoffer word nie. Trouens, die meeste energie-doeltreffende gloeilampe verskaf dieselfde hoeveelheid lig en kan tot 10 keer langer hou as standaard gloeilampe.
  8. Inspekteer jou huis: Om warm te bly in die winter en energie te bespaar, maak deure na ongebruikte kamers toe en fokus op die verhitting van slegs die areas wat jy die meeste gebruik. Maak seker dat jou gordyne of blindings goed pas om vensters te verseël en die warmte binne te hou. Blokkeer enige trek rondom deure en vensters om te keer dat koue lug inkom en warm lug ontsnap.

Deur hierdie eenvoudige stappe te gebruik, kan jou huis knus en meer energie-doeltreffend gemaak word gedurende die kouer maande.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.