On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
Show Background
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

Kimberley-prokureur dán weer in hof weens bedrog

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:21 Sun, 16 Nov 2025

Kimberley-prokureur dán weer in hof weens bedrog | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

’n Noord-Kaapse prokureur sal na verwagting op 28 November in die landdroshof verskyn, waar haar saak na die ernstige handelsmisdaadhof oorgeplaas sal word.

Leanne Sullaphen Macleod (55), ’n prokureur van Kimberley, is vroeër in hegtenis geneem op aanklagte van diefstal waarby miljoene rande betrokke is, asook geldwassery. Sy het Woensdag (12/11) vlugtig in die Kimberley-landdroshof verskyn, waar sy op borgtog van R500 vrygelaat is, sê lt.kol. Tebogo Thebe, woordvoerder van die Valke.

Macleod, ’n erkende prokureur en oordragbesorger, het na bewering tussen 2021 en 2024 kliënte se geld verduister wat in ’n trustrekening gehou is. Die fondse is aan haar toevertrou vir die koop en verkoop van eiendom namens kliënte, verduidelik Thebe.

Meer as R4 miljoen-verlies

Volgens Thebe het sy na bewering versuim om kliënte se mandate na te kom of die geld terug te betaal. “Daar word verder beweer dat sy onwettig en opsetlik trustgeld na haar persoonlike bankrekening oorgeplaas het vir haar eie gebruik. Verskeie kliënte het na bewering verliese van R4 638 357,30 gely.”

Nóg ’n prokureur, Jan Gysbert Maritz (57), staan intussen ook tereg op bedrogklagte. Maritz, ’n voormalige regsverteenwoordiger van die Matjhabeng-munisipaliteit, is vroeër in hegtenis geneem in verband met ’n beweerde bedrogbedrag van R15 miljoen.

Hy word daarvan beskuldig dat hy fondse uit ’n regsaak na die bankrekening van sy beslote korporasie, Major Issues 314, herlei het in plaas daarvan om dit aan die regmatige maatskappy, Oryx Trading, te betaal. Hy staan tereg op vier aanklagte, insluitend bedrog, vervalsing en geldwassery.

Maritz het op 28 Oktober sy borgtogaansoek laat vaar om eerder op ’n appèl te fokus teen sy drie lewenslange vonnisse, sê F.C. Schilling, sy regsverteenwoordiger.

Maritz is op 17 Oktober in die Hooggeregshof in Bloemfontein gevonnis nadat hy in Mei 2021 skuldig bevind is op 16 aanklagte van seksuele misbruik van minderjariges tussen 2007 en 2014 in Virginia, Odendaalsrus en Welkom.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.