Inspiration
40 dankies vir 40 jaar van OFM: Childline Free State sê dankie aan toegewyde pleegouersg─── 08:00 Fri, 31 Jul 2026
Ten viering van OFM se 40ste verjaarsdag vier Yolanda Maartens tydens Mid-Morning Magic 40 dade van goedhartigheid. Goedhartigheid kos niks nie, maar tog voel 'n eenvoudige ‘dankie’ so betekenisloos.
Vir die 40ste dankie-sê sluit Marietha le Roux, direkteur van Childline Free State, by Yolanda aan om ‘n baie besonderse pleegouerpaar te bedank vir al die kinders wat hulle oor die jare ingeneem en met liefde omvou het.
Marietha vertel meer oor hierdie merkwaardige gesin wat hul huis en harte oopmaak vir kinders wat dit werklik nodig het, sonder om enigsins vir hulp of erkenning te vra. Die impak wat hulle op hierdie kinders se lewens het, is onmeetbaar groot.

Foto verskaf
Baie van die kinders is nou al volwassenes maar is steeds deel van die gesin se lewe. Lede van die publiek wat nie daagliks betrokke is by welsyn nie, besef nie noodwendig aldag die impak wat 'n standvastige, liefdevolle huishouding op 'n kind se lewe kan hê nie, en ook hoe skaars dit is.
Met drie kinders van hul eie, het hierdie ouerpaar oor die jare hande gevat met instansies soos Childline, en 'n lewenslyn van hoop gebied waar organisasies se hande baie keer afgesny word weens 'n tekort aan hulpbronne.

Childline Free State bedank nie net hierdie spesifieke gesin nie maar ook elke pleegouer in Suid-Afrika wat hul eie tyd, geld, liefde en ouerskap beskikbaar stel vir kinders in nood. 'n Blote ‘dankie’ is nie genoeg vir wat hul eintlik verdien nie.
As jy graag as pleegouer betrokke wil raak en 'n verskil wil maak, skakel Marietha by 051 430 3311.
OFM Nuus cvdw
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

