On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

International

Vlaag bomdreigemente tref skole in Italië

───   15:24 Wed, 11 Nov 2026

Vlaag bomdreigemente tref skole in Italië | News Article
Verskeie Italiaanse skole het vals bomdreigemente ontvang. Foto ter illustrasie: Pexels

Verskeie Italiaanse skole is ontruim nadat byna 300 skole bomdreigemente ontvang het in ’n vlaag voorvalle wat Europa teister.

Onderwysminister Giuseppe Valditara het die voorvalle Woensdag (11/11) eerder as ’n kuberaanval as ’n werklike bedreiging beskou. Hy het aan Italiaanse televisie gesê daar is ’n duidelike strategie agter die talle dreigemente in Italië en elders in Europa wat op vlugte, supermarkte en selfs hospitale gemik was.

E-posse is aan skole in onder meer Rome, Napels, Vicenza, Florence, Pisa en Triëst gestuur en ’n aantal geboue is voorkomend ontruim, berig die BBC. 

Eerste minister Giorgia Meloni het op ’n vergadering van topministers en intelligensiehoofde gesê die regering hou “talle berigte van bomdreigemente by onderwysinstellings” fyn dop, hoewel ondersoeke tot dusver geen bewyse van ’n “werklike gevaar” blootgelê het nie. 

“Dit lyk eerder asof hierdie berigte deel is van ’n strategie wat daarop gemik is om paniek en kommer te saai,” het Meloni op Facebook gesê.

Italiaanse lughawens, asook lugdienste elders in Europa, is verlede week deur ’n reeks vals bomdreigemente geteiken. Dit het tot verskeie voorvalle van paniek, ontruimings en wydverspreide ontwrigting gelei.

Hoewel ’n ekstremistiese misoginistiese groep verantwoordelikheid vir verskeie van die dreigemente aanvaar het, het die groep later enige verbintenis met die vals waarskuwings ontken.

‘Geen bewyse van ’n bedreiging’

Volgens Italiaanse berigte het 280 skoolhoofde in die onlangse dae dreigemente ontvang. Hoewel talle skole aanvanklik Woensdag ontruim is, is die noodsituasie volgens berigte uit verskeie streke kort daarna opgehef en is leerlinge toegelaat om na hul klasse terug te keer.

Stefania Proietti, hoof van die sentrale streek Umbrië, het in ’n verklaring gesê ondersoeke wat tot dusver by skole daar uitgevoer is, het geen bewyse van ’n bedreiging opgelewer nie. “Wetstoepassingsowerhede werk vinnig en noukeurig om elke berig te ondersoek.”

Volgens CNN het skole in Skotland, Noord-Ierland en die Ierse Republiek ook Woensdag e-posse ontvang. Die polisie het egter gewaarsku dat dit fopdreigemente was en die skole is nie ontruim nie. 

OFM Nuus cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.