On Now
Weekends 20:00 - 22:00
Sunday Night OFM
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Agriculture

PODCAST: Nasionale Oesskattingskomitee kan moontlik vooruitskatting aanpas

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 17:10 Mon, 27 Aug 2018

PODCAST: Nasionale Oesskattingskomitee kan moontlik vooruitskatting aanpas | News Article
Photo: Supplied

Die Nasionale Oesskattingskomitee kan vandeesweek in sy sewende produksieskatting vir die 2017-'18 somergewasse sy vooruitskatting vir die produksie van die kommersiële mielieoes in Suid-Afrika ietwat aanpas.


Wandile Sihlobo van die Landboubesigheidskamer, Agbiz, sê dít kan met 'n persentasiepunt van die huidige skatting afneem.

Volgens hom kan dié afname nie 'n groot negatiewe invloed hê nie op die land se mielievoorraad, wat tans goed daarna uitsien. Sihlobo sê die stroopproses word binnekort afgehandel weens onlangse koue en droë toestande wat ideaal is vir die oestyd.

Hy sê Suid-Afrika het meer as 57 100 ton mielies in die week van 17 Augustus uitgevoer. Dit is 61% meer as die uitvoer van die vorige week. Sover staan Suid-Afrika se mielie-uitvoer vir die 2018-'19 seisoen op 1,1 miljoen ton. Die oesskattingskomitee sal sy sewende skatting vir somergewasse Dinsdag bekendmaak.

EN

Goeie bogemiddelde pryse is op Merino SA se nasionale merinoveiling op Graaff-Reinet behaal, maar sekere ramme van die 77 wat aangebied is, kon beter pryse behaal het. Dit is volgens Danie Vorster, bestuurder van Merino SA nadat ramme teen 'n gemiddelde prys van sowat R30 000 verkoop is. Altesaam 71 ramme is verkoop. Landbou.com berig die merinoram, Emperor, van Andrew Jordaan en Seuns is vir R210 000 verkoop. Die kopers was Pieter van Zyl en Philip Botha van Britstown. Dié ram is geteel van teelmateriaal uit Australië en volgens sy Verwagte Teelwaardes (VTW), het die ram 'n uitstaande hoeveelheid wol.

EN

Dit is weer tyd vir die jaarlikse Boertjiefees in Bultfontein. Voorsitter van die feeskomitee, Herman Meiring, sê dit is die twaalfde jaar dat dié skou aangebied word en besoekers kan hulle gereedmaak vir 'n propvol program. Hy sê daar is verskeie vee-uitstallings van hoogstaande gehalte.

Daar is ook 'n trekkerdemonstrasie, waar verskeie verskaffers hulle staal gaan toon. Volgens Meiring kan die boerepatente-uitstalling nie misgeloop word nie.

Meiring sê benewens die verskeie landbou-uitstallings in sale en buitekant op die feesgrond is daar ook sport, verskeie kompetisies vir oud en jonk en heerlike kos. 'n Vroueprogram word ook aangebied. Die fees begin Donderdag en eindig Sondag met 'n sangdiens in die NG kerk Bultfontein-Oos.



OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.