Agriculture
RPO Noord-Kaap bou voort ten spyte van uitdagings─── 05:00 Fri, 13 Jun 2025

Hoewel Noord-Kaapse rooivleisprodusente die afgelope ruk deur diep water is met betrekking tot droogtes en nou weer donker wolke op die horison sien met die uitbreking van bek-en-klouseer wat markte raak, gaan die organisasie van krag tot krag.
Tydens die RPO Noord-Kaap se jaarkongres in Kimberley het voorsitter Brand du Toit genoem dat produsente in die afgelope jaar uiterste droogtetoestande, veral in die westelike Kalahari, moes trotseer.
Die afgelope drie maande het egter goeie reën oor groot dele van die provinsie geval, wat tot verbeterde weidingstoestande gelei het.
Dit het pryse laat styg, en die huidige aanbod van groen velde het ook pryse van aanteeldiere laat toeneem. Tog bly slaggetalle laer as vorige hoogtepunte.
Beesvleisslagtings staan nou op 2,8 miljoen teenoor 3 miljoen in 2016. Skaapslagtings het van 4,3 miljoen in 2022 weer tot 5,1 miljoen in 2024 gestyg, steeds onder die 5,4 miljoen van 2016.
Die jongste bek-en-klouseeruitbreking in Heidelberg werp egter ’n skadu oor hierdie positiewe tendense. “Ons sien reeds afwaartse druk op speenkalfpryse weens die tydelike verlies van staanplek by voerkrale,” sê Du Toit. Die verbod op vleisuitvoer na China verhoog plaaslike aanbod en plaas verdere druk op pryse.
@ofm.agri #OFMAgri het vandag die RPO Noord-Kaap se jaarkongres in Kimberley bygewoon. Voorsitter Brand du Toit deel sy gedagtes van die oggend.
? original sound - OFM Agri
Hy waarsku dat ’n tekort aan slagdiere weens die sluiting van voerkrale en abattoirs ’n tydelike onderaanbod kan veroorsaak. ’n Betroubare naspeurbaarheidstelsel, behoorlike veeartsenydienste en verskerpte biosekuriteit is dus van kardinale belang.
Die feit dat veeartseneposte in die provinsie steeds onvervuld is, en personeel nie inspeksiepunte kan bereik nie, is rooi ligte vir die bedryf. Sommige produsente moes al hul eie voertuie gebruik om staatsveeartse vir ramtoetsing na hul plase te vervoer.
Du Toit moedig produsente aan om die nuwe aanlyn stelsel vir dieresiekterapportering op die RPO se webwerf te gebruik vir groter bewustheid. “Biosekuriteit is nie ’n las nie – dit is ons sleutel tot toegang tot markte.”
Charl Saunderson lewer die jaarverslag. Foto: OFM
Visevoorsitter Charl Saunderson het op sy beurt van die suksesse uitgelig – van predasiebestuur en naspeurbaarheid tot beleidsvernuwing en lidmaatgroei.
Hy meen die RPO Noord-Kaap se betrokkenheid by die hele waardeketting is duidelik sigbaar. Die dagbestuur het sowat 36 000 km afgelê, met 20 besoeke, 11 nasionale vergaderings en talle opleidingsgeleenthede, insluitend predasiekampe.
In terme van dieregesondheid is die samewerking met die provinsiale departement volgens hom uitstekend. Hy het ook verwys na die betrokkenheid van senior rolspelers, insluitend die LUR, om te verseker dat projekte die nodige politieke en finansiële steun geniet.
’n Belangrike fokus was die ondersteuning van laagbefondsde boere. “Ons het ses inligtingsdae vir hulle aangebied – goeie besluite volg op goeie inligting, en daaruit spruit winsgewendheid,” sê Saunderson.
Die organisasie se impak strek ook na kommunikasie en bemagtiging: met 1 648 lede, ’n 22%-groei vanaf die vorige jaar, 788 WhatsApp-lede en meer as 6 300 Facebook-volgers.
Op beleidsvlak is ’n volledige stel provinsiale beleide ontwikkel, en digitale platforms vir siekteverslagdoening en -monitering geskep.
“Ons weet nou presies waar ons lede boer. Hierdie data help om druk op die departement te plaas vir tydige optrede, soos ramtoetsing en biosekuriteitsinsette.”
Afgevaardigdes by die RPO Noord-Kaap kongres in Kimberley. Foto: OFM
Op nasionale vlak is daar groot vordering gemaak met die uitvoer van genetiese materiaal na Namibië en Botswana, die ontwikkeling van ’n naspeurbaarheidstelsel, die hantering van bek-en-klouseerprotokolle, en die BTW-kwessie op hoender.
Tydens die geleentheid is Brand du Toit weer as voorsitter verkies en Frederick van Zyl as vise-voorsitter nadat Saunderson uitgetree het.
Saunderson het sy betrokkenheid as bestuurslid afgesluit, maar beklemtoon: “Jy het nie ’n posisie nodig om jou vinger te trek nie. As jy ’n rooivleisprodusent is, het jy ’n verantwoordelikheid teenoor jou medeboer.”
OFM Agri mvh